Dag 279

“Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.”  (Ps 118:23, OAV)

 

Die lewe op aarde kan in twee gelykklinkende maar onpaar rymwoorde saamgevat word: verwondering en verwonding. Ons staan eers by verwondering stil.

Ons kan nie anders as om te duisel voor die ongelooflike grootsheid en allerintieme detail van God se Intelligente Ontwerp nie. Die manjifiekheid van die son wat hom ellipties getrou uit die donker losskeur en in ‘n vaste baan die aarde om hom laat dans; die rykheid en verskeidenheid van die aarde se oorweldigende teksture; die ongelooflik manjifieke werking van die menslike liggaam; die onomvatbare ster- en planeetkonstellasies en steeds-ontvouende uitspansels; die wonder van lig en kleur en die presiese chemies-perfekte balans van elemente wat lewe moontlik maak; die heilige wondergeheimenis van ‘n kind wat gebore word; die misterie van denke, en sig, gehoor, taal. Inderdaad, Dawid: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.” (Ps 139:6 & 14). Geen wonder dat die eerste naam waarmee Christus – die Een uit wie alle dinge ontstaan het (Joh 1:3) – aangekondig word “Wonderbaar” (Jes 9:6) is nie!

Geen wonder Jesus sê dat ek en jy soos ‘n kind moet word  alvorens ons kan deel wees van die koninkryk van God nie (Mat 19:14). ‘n Kind het ‘n ongekontamineerde verwondering oor die lewe, en ‘n natuurlike ontvanklikheid vir en geloof in die Skepper van alle dinge. Luister na wat Hy in Mat 11:25 bid: “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” Dit gaan nie oor die kindwees as sodanig nie, maar oor die wyse waarop kinders dink nie – “innocent of evil” (Rom 16:19). Tereg sê Paulus in 1 Kor 14:20: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand.” In 2 Cor 11:3 (Darby) word dit só uitgespel: “But I fear lest by any means, as the serpent deceived Eve by his craft, so your thoughts should be corrupted from simplicity as to the Christ.” Daar is ‘n “simplicity” in ons dink oor Christus wat contrived gemaak is deur die sogenaamde geleerdes van die wêreld. Biblioteke vol kettery is byvoorbeeld geskryf oor ‘n onderwerp wat Mark 16:16a klinkklaar, onomwonde en ondubbelsinnig in net elf woorde saamvat.

In die lig hiervan is Jes 29:14 deel van die ontvouende belofte van God aan die mens:  “daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil”. Die belangrikste faset van wedergeboorte is ‘n nuwe manier van dink (Rom 12:2), los van die “swart van my gedagtes”, soos dit in Germanicus (NP van Wyk Louw) genoem word, die dink sonder verwondering. Maar dít is afhanklik van hoe kýk ons na die wêreld: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Mat 6:22-23). Maar uiteraard: “ook dit kom van die HERE van die leërskare: Hy is wonderbaar van raad, groot van beleid” (Jes 28:29).

 

  • Sela: Vra God vir verwondering en om jou oog in te stel daarop.
  • Lees: Jos 2;  Job 37; Jes 18
  • Memoriseer: Jes 11:1-2
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Keer terug na die eenvoud in Christus.