Dag 281

“maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer … en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is”  (Rom 7:23, OAV)

 

In die laaste mannas het ons gewys hoe verwondering en verwonding teenoor mekaar te staan kom in alle mense se lewens. Elke persoon verloor met die verloop van sy blootstelling aan die groeiende effek van verwonding sy verwondering, en dit maak plek vir verwording. Die bekende dieptesielkundige Simund Freud het in sy boek Civilization and its discontents uitgewys dat dit ten grondslag lê van die swaartillende pessimisme, depressie en neuroses waaruit die moderne mens moet probeer worstel om sin te maak van die sinloosheid wat hom op alle terreine verswelg.

Die ou Grieke het lank voor Freud daarmee geworstel, en het dit vereenvoudig gesien as twee lewensmagte wat in die mens meeding: Eros en Thanatos. Eersgenoemde is ‘n lewensdrif, die behoefte om die self te handhaaf en te laat oorleef; laasgenoemde is ‘n doodsdrif wat immer probeer om die hoop van lewe te blus.

Paulus noem dit twee “wette”, maar dis nie wette in die sin van voorskrifte nie, maar eerder soos wetmatighede, soos die wet op swaartekrag. Of jy die wetmatigheid gehoorsaam of nie, dit het altyd ‘n verrekenbare effek op jou lewe. In Rom 7:23 noem hy die eerste “die wet van sonde” en kwalifiseer dit later in Rom 8:2 verder met: die wet van die sonde en die dood”. Hierdie wet, stel hy dit onomwonde, voer stryd in my. Sonde is dus nie meer iets wat Satan buite ons georkestreer het om ons in die valstik te laat trap nie, nee. Nadat ons kollektief met Adam (1 Kor 15:22) daarin getrap het (Amos 3:5), bring dit ‘n wetmatigheid mee wat ons lewens in alle fasette daarvan reguleer. Jy kan daar nie van ontsnap nie. Deur hierdie wetmatigheid van sonde het die mens terminaal siek geword. Jy kan soos Hendrik Marsman, die Nederlandse digter, sê: “Geef mij een mes / ik wil deze zieke, zwarte plek uit mij lijf wegsnijden,” maar die dood skuil weliswaar veel, veel dieper as sigwaarde.

Die dood het in jou ‘n lewe van sy eie gekry.

En niks wat ek en jy doen, kan daaraan iets verander nie: die vleeskleed wat ek en jy dra, is met sonde bevlek (Ps 102:26; Jud 1:23). “Kyk, hulle sal almal verslyt soos ‘n kleed; die mot sal hulle eet.” (Jes 50:9). Die Woord stel dit onomwonde in Jes 64:6: “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”

Dit is net met die kruisdood van Christus Jesus, waartydens God vir drie-en-dertig jaar die mens se liggaam kom aantrek het, dat hy hierdie wet van die sonde en die dood op eie terrein kon aandurf, om sodoende ‘n ander wetmatigheid vry te stel vir die mens. As Paulus bykans in wanhoop uitroep in Rom 7:24: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”, dan is dit net Christus wat ons die pad kan laat terugstap van verwording en verwonding na verwondering.

 

  • Sela: Omhels in gebed die gekruisigde Christus. Bid en bedink Fil 3:10.
  • Lees: Jos 4;  Job 39; Jes 20
  • Memoriseer: Job 39:37 (laat dit ook jou gebed wees na die lering).
  • Vir dieper delf: Lees hfst 3 van John Bevere se Under cover.