“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel … terwyl Hy tog die sonde van baie gedra … het” (Jes 53:5 & 12b OAV)
In sy boetepsalm, nadat hy in owerspel en moord geval het, bid Dawid in Ps 51:2-3 die volgende: “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.”
Ons gebruik dikwels die versamelterm “sonde” sonder om die drie manifestasievorme daarvan te verreken: sonde (“sin”), oortredinge (“trespasses”) en ongeregtighede (“iniquities”). So byvoorbeeld word die begrippe “ongeregtighede” en “oortredinge” bykans deurgaans in die Nuwe Afrikaanse Vertaling verkeerdelik as “sonde” vertaal. In Jes 53 hierbo word al drie duidelik onderskei.
‘n Oortreding word altyd aan ‘n ooreenkoms, afspraak, wet of norm gekoppel. As jy daardie “kontrak” verbreek, pleeg jy ‘n oortreding – jy tree as ‘t ware oor die ooreengekome norm. Daarom is dit ‘n oortreding om snelheidsperke te oorskrei, jou bediende nie die minimum loon te betaal nie, en so meer.
In Manna 69-70 het ons so ‘n bietjie stilgestaan by die betekenis van die begrip “sonde”. Ons het uitgewys dat Satan se primêre aanval op jou is om te keer dat jy in jou oorspronklike skeppingsdoel kan opstaan. As daar in Gen 3:15 gesê word dat Satan, die ou slang (Open 12:9), sal jou aan die hakskeen byt, wat beteken dit? Hakskeen kom in die Hebreeus van ‘n woord wat beteken “by the heel; figuratively to circumvent (as if tripping up the heels); also to restrain (as if holding by the heel)” (Strongs); asook: “to supplant …to hold back” (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions). Dus: sy strategie is om om jou ‘n “refuge of lies” (Jes 28:15) te bou en jou sodoende terug te hou van dit wat God vir jou beplan het! Die woordjie “sonde” dui in sy oorspronklike betekenis op die feit dat jy “jou merk mis”, jou skeppingsdoel nie volvoer nie. Dis waaroor dit hier gaan. Alhoewel Adam en Eva se eet van die verbode vrugte ‘n oortreding was, het hul daarmee aan sonde beslag gegee – hul het die doel gemis wat God met hulle lewe gehad het.
Ongeregtighede kan ‘n mens in gewone taal oorgeërfde sonde en ongeregtighede noem. Dikwels loop alkoholisme in ‘n gesin – die oupa het daarmee gesukkel, die seun het daarmee gesukkel en die dogter het ‘n probleem daarmee. Dit word dan ‘n ongeregtigheid of ‘n bloedlynvloek genoem. Die familiespesifieke erfenis van Adam slaan deur in ons oorgeërfde bloedlyne.
Dis interessant dat sonde, ongeregtighede en oortredinge vergewe kan word, maar dat net ongeregtighede besoek word: “wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (Eks 34:7).
- Sela: Verduidelik aan iemand die onderskeid tussen hierdie drie begrippe.
- Lees: Jos 5 (veral :9); Job 40; Jes 21
- Memoriseer: Jes 21:11-12
- Vir dieper delf: Lees John & Paula Sandford se The transformation of the inner man.