“Pas op dat niemand julle mislei nie.”
(Mat 24:4, OAV)
Lesers moet nie die groter samehang van die onderafdeling waarmee ons besig is, vergeet nie. Ons is steeds besig met die koperaltaar in die voorhof van die tabernakel, en ontrafel steeds die misterie van wetteloosheid, en die teenpool daarvan: die misterie van godsaligheid. Die koperaltaar is die plek waar “the mystery of godliness” beslag moet kry. As spilpunt van laasgenoemde gebruik ons 1 Tim 3:16. Ons het ekstensief beslag gegee aan die eerste aspek: dat God in die vlees verskyn het. Daar is allereers verskeie aspekte rondom sy GEBOORTE gedek. Daarna het ons begin met die geweldige omvattende tema van: “Christus is geregverdig in die gees”, wat hoofsaaklik fokus op sy STERFTE, want Rom 5:19 (KJV) sê: “For as by one man’s disobedience many were made sinners, so by the obedience of one shall many be made righteous.” Fil 2:8 stel dit so mooi: “en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis”.
Hiervan is ‘n baie belangrike onderdeel die feit dat Jesus gekom het om vir die mens se sonde, oortredinge en ongeregtighede te sterf. Ons is tans besig om die wetmatigheid wat 1 Joh 3:4 uitspel: “alle sonde is wetteloosheid” te ondersoek. In die vorige manna het ons die akute relevantheid hiervan vir ons tyd uitgewys deur te probeer peil wat die implikasies is van Mat 24:12: “And because lawlessness will be increased, the love of the many will be made cold.”
As die dissipels in Mat 24: 3 alleen na hom toe kom en die geheime van die eindtyd weet, en vra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”, antwoord Jesus hulle in die volgende twee verse en sê vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” Belangriker as wanneer dit sal wees en wat die tekens sal wees, is die feit dat misleiding die waarmerk van die eindtyd is.
Christus is die Pad, die Weg (Joh 14:6), en misleiding is die aksie waardeur gelowiges goedgelowig van hierdie Weg weggelei word. Die oorspronklike betekenis van misleiding spel dit uit: “to cause to stray, to lead astray, lead aside from the right way … to lead away from the truth, to lead into error, to deceive … to be led aside from the path of virtue, to go astray, sin … to be led away into error and sin” (Thayer). Jy word getrick om van Sy spoor op ‘n syspoor te gaan en sodoende jou skeppingsdoel te verloor. Helaas: “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spr 14:12).
Die ergste hiervan is dat dit ”vir ‘n mens reg lyk” – hoe gebeur dit? 1 Joh 4:6 verklaar dat daar ‘n “gees van dwaling” is, dit wil sê ‘n demoniese werking wat jou geestelike oë en onderskeiding verblind. In die volgende manna ondersoek ons die rede hiervoor.
- Sela: Vra die Heilige Gees om die werkinge van die gees van dwaling aan jou te openbaar.
- Lees: Jos 10; Est 3; Jes 26
- Memoriseer: Jes 26:7 (belangrik vir dié lering!)
- Vir dieper delf: Lees Tom Gouws se digbundel Syspoor (Human & Rousseau) waarin hierdie aspek van die geloofspad poëties aan beslag gegee is.