“die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers”
(Gen 4:7, OAV)
Dit is verskriklik om te hoor daar is ‘n pad wat vir ‘n mens “reg lyk”, maar dit is eintlik ‘n dwaalweg. Wat gee die “gees van dwaling” die reg om jou geestelike oë en onderskeiding te verblind, jou welmenende aksies te perverteer? Voor ons dit kan antwoord, is dit belangrik om eers uit te wys hoe ‘n “deur” of poort in die mens “oop” gemaak word vir demoniese inspraak, sonder dat hy dit enigsins raaksien of besef (Hos 7:9). Om dit te illustreer, sal ons die geskiedenis van Kaïn bestudeer, want hy is ‘n prototipe wat op die oog af ‘n pad van aanbidding en offers geloop het, maar die Woord sê in Jud 1:11 “die weg van Kaïn” het in die dood geëindig. In die Skrif hierbo waarsku God hom en ander gelowiges dat die sonde by die poort vir jou wag, dat sy begeerte na jou is (!), en dat jy ‘n verantwoordelikheid het om toe te sien dat die vyand nie by die poort inkom nie. Die YLT-vertaling stel dit besonder treffend: “at the opening a sin-offering is crouching”.
Gelowiges voel gewoonlik dat die Here vir Kaïn onregverdig behandel het. Daar word in die verhaal van Gen 4 nie veel redes aangevoor oor hoekom God Abel se offer aanvaar het en Kaïn s’n verwerp het nie, en dit lyk na ‘n geval soos die Gereformeerde teologie dit ook (verkeerdelik) verduidelik uit Rom 9:15: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” (Hieroor het ons al uitvoerig gepraat in die mannas oor die uitverkiesing.) Dit is verseker nie met Kaïn die geval nie.
Die verkeerde veronderstelling ten grondslag van die persepsie dat daar teenoor Kaïn gediskrimineer is, is dat alle geestelike offers per definisie aanvaarbaar moet wees. Ons sing uit volle bors en diep oortuiging: “Come, now is the time to worship. / Come, now is the time to bring your heart. / Come, just as you are to worship. / Come, just as you are before your god, come.” Maar dit is glad nie Skriftuurlik om dit te sê nie. Ongereddes kan kruis toe kom “net soos hulle is”, soos die verlore seun in sy “vodde en sy vuil”, maar as die gelowige tot God nader, moet dit met rein hande en ‘n rein hart wees, ‘n persoon “who don’t worship idols” (CEV) or “lifted up his soul unto falsehood” (ASV), someone “who has not made promises in the name of a false god” (NCV). As ons tot God nader, waarsku Jak 4:8 ons, moet ons ons hande en harte reinig en ons sondigheid en dubbelhartigheid bely. God aanvaar slegs die offers van ‘n gebroke gees en ‘n gebroke en verslae hart (Ps 51:17), “regverdige offers” (Deut 33:19). Dít het Kaïn nie kon bring nie. Hy word gestel teenoor die “regverdige Abel” (Mat 23:35); 1 Joh 3:12 sê eksplisiet Kaïn was uit die Bose.
Kaïn se offer was nie ‘n “welgevallige offer” (Esr 6:10) nie, dit was “vreemde vuur” (Num 3:4). Kaïn se offer was vir die Here ‘n gruwel (Spr 21:3), “‘n skynheilige offergawe, ‘n gruwelike reukwerk” (Jes 1:13). Dit is van die uiterste belang dat ons geestelike offers … bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Pet 2:5).
- Sela: Vra die Heilige Gees of jou geestelike offers regverdig is.
- Lees: Jos 11 Est 4; Jes 27
- Memoriseer: Jes 27:1
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Gekorrupteerde genade.