“En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop …” (Mat 3:16, OAV)
Dwarsdeur die Skrif word die doping in water gevolg deur die doping met die Heilige Gees, soos wat ook hier met Jesus gebeur het. En ‘n wonderlike ding gebeur verder: die hemele open. In hierdie sin sou ‘n mens kon sê dat die geestelike realm, wat vir die mens gewoonweg onsigbaar is, sigbaar begin word. Dis hoekom Jesus vir Nikodèmus gesê het in Joh 3:3: “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Alvorens jy die koninkryk van God kan ingaan, moet jy dit eers kan sien met geestelike oë.
Daarom bid Paulus in Efes 1:17 vir ons vir “verligte oë van die verstand”. Om in die geestelike realm te kan sien, beteken allereers dat jy verstaan. Die wyse waarop jy na dinge kyk na jou wedergeboorte, maak van jou ‘n geestelike mens, want anders as die natuurlike mens, beoordeel jy alle dinge nou geestelik: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Kor 2:14).
Maar hoe beoordeel ‘n mens dinge geestelik? Jy sien die wêreld en dit wat met en rondom jou gebeur nie meer net as ‘n toevallige sameloop van omstandighede nie. Jy sien die pad wat jy loop as ‘n baie spesifieke voltrekking van Sy wil vir jou lewe. Jy interpreteer gebeure in die lig van die feit dat die ganse wêreld onder die beheer van Satan is (1 Joh 5:19), maar dat Spr 21:1 die riglyn is waarvolgens jy die pad loop in die volvoering van jou alledaagse lewe: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”
Judas 1:10 spel dit uit dat daar is gelowiges wat dinge “op natuurlike wyse verstaan” en derhalwe daardeur ten gronde gaan! ‘n Geestelike mens moet alles beoordeel (1 Kor 2:15), anders kan hy vernietig word. Wedergeboorte maak dit vir jou moontlik om geestelik te begin sien (=verstaan), maar dit moet geoefen word. Soos ‘n pasgebore babatjie net gedeeltelik sien en progressief vorder, so is dit ook in die geesrealm.
Word soos Bíleam wat in Num 24:3b-4 oor homself dit kan proklameer: “die man met geopende oog spreek. Die hoorder van die woorde van God spreek, hy wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het!”
- Sela: Bedink hoe jy gister as geestelike mens dinge beoordeel het.
- Lees: Gen 29; Ps 29; Judas 1
- Memoriseer: Jud 1:20
- Vir dieper delf: Luister na die lering van Tom Gouws oor: Die mens as geestelike wese.