“them that walk after the flesh … and despise dominion”
(2 Pet 2:10, ASV)
Ons het die vorige manna afgesluit met ‘n ongelooflik belangrike beginsel: daar is ‘n verskil tussen die koninkryk ingaan (deur wedergeboorte en doop) en die koninkryk beërwe. Ons het uitgespel: Hulle wat deur Satan se “craftiness” hul “fidelity” verloor het, het ook hul erfdeel verloor en kan derhalwe nie heers nie. Die onderskeid wat die Woord tussen hierdie twee groepe maak, is tussen hulle wat in die gees wandel en hulle wat in die vlees wandel. Onthou: ALBEI is gered en wedergebore (alhoewel daar ook ‘n onderskeid daartussen is), maar die een sal die koninkryk erf en die ander nie. Die wat in die vlees wandel “despise dominion”, soos die Skrif hierbo dit dan ook uitspel, en kan nie nou, of in die duisendjarige vrederyk, heers nie.
Miskien sal dit loon om net eers weer hierdie onderskeid te verduidelik aan die hand van die tabernakel van Moses, om enige misverstande uit die weg te ruim.
As jy deur jou keuse uit die koninkryk van duisternis kom na die koninkryk van God toe, beteken dit in die tabernakel-tipologie dat jy van buite die afgekampte gedeelte binnekom (deur te kies om jou te bekeer). Jy word in die buitehof allereers gekonfronteer met die koperaltaar, wat ons nou al weet, dui op die kruis van Jesus en die plek waar redding ontvang word op grond van Jesus se bloedoffer. As jy Hom aanneem, word jy GERED en jou sondes vergewe en word jy ‘n kind van God (Joh 1:12; Gal 3:26; 1 Joh 5:12). Dáár word jy “gereinig met die waterbad deur die woord” (Efes 5:26; 1 Kor 6:11; Sag 13:1). Baie gelowiges bly die res van hul lewe hier in die eerste dimensie, waar die evangelie van redding (Rom 1:16; Efes 1:13a) beslag gekry het. Hulle is deur die Gees van God tot hier begelei (sonder die Heilige Gees kan jy nie gered word nie); hulle het dus die Heilige Gees, maar wandel nie deur Hom nie, en hulle is nie met die Gees gedoop nie. Derhalwe sê Paulus hulle is vleeslike Christene (1 Kor 3:3), “klein kinders in Christus” (1 Kor 3:1).
Die eerste gordyn, wat die Voorhof en die Heilige skei, waardeur die geredde persoon dan kan gaan, is wedergeboorte. As jy deur gees en water gebore word, verduidelik Jesus in Joh 3:3 & 5, kan jy vir die eerste keer die Koninkryk van God sien en daar ingaan. Dit behels doping met water en doping met die Heilige Gees. Nou het jy nie net die Heilige Gees nie, die Heilige Gees het jou, en kan God deur die kandelaar (=gawes en vrugte van die Gees), die tafel met toonbrode (=om die stem en wil van God te ken) en die reukofferaltaar (=intersessie, lofprysing en geestelike oorlogvoering) jou gebruik om die Koninkryk te laat kom. Maar dit is hier selfs moontlik om net te kampeer en die “charismatiese” ervaring te geniet waaraan die evangelie van die Koninkryk (Mat 4:23; 9:35) beslag gegee het, sonder om die Koninkryk te beërwe. Hulle wat in die tweede dimensie “die Koninkryk laat kom” (Mat 6:10) deur die agenda van God te vervul deur in hulle skeppingsdoel op te staan (Hand 13:36), kan deur die tweede gordyn, die doping met vuur (Mat 3:11), instap en hul erfdeel in die Koninkryk ontvang en derhalwe heers (Open 5:10). Dit is die derde dimensie, dié van “‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes 4:13), waar die evangelie van heerlikheid (2 Kor 4:4; 1 Tim 1:11) beslag kry.
- Sela: Verduidelik die drie “evangelies” aan iemand. Onthou dat een nie die ander uitsluit nie, maar dat die eerste in die tweede, en die tweede in die derde ontvou en standhou.
- Lees: Jos 14 Est 7; Jes 30
- Memoriseer: Jes 30:21
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Satan se pervertering van die Goddelike impuls.