“Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat … sy eersgeboortereg verkoop het.” (Heb 12:16, OAV)
Om in die gees te wandel en nie in die vlees nie, is ‘n waarmerk om te kan heers en jou erfdeel te kan ontvang, het ons nou uit die vorige leringe en 2 Pet 2:10 geleer. As jy dit ontvang, het jy deel geword van “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb 12:23) wat reeds op die berg Sion is (vers 22), die plek waar die Bruid met God in die derde dimensie heers.
In 1 Kor 6 bespreek Paulus hierdie saak van gelowiges wat ‘in die vlees’ beweeg as ‘n duidelike manifestasie van afgodery. Hy gebruik die voorbeeld van fisiese hoerery/egbreuk (infidelity) om te sê dat “hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete” (:10) nie die koninkryk van God sal beërwe nie. Maar julle het julle laat afwas, verklaar hy in vers 11, en daarom is julle geheilig. In die res van die betoog tref Paulus dan ‘n vergelyking tussen fisiese hoerery en geeestelike hoerery (:12-:19). Dan kom hy in vers 20 tot die gevolgtrekking: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Daar is nie net hoerery van die liggaam nie; daar is ook hoerery van die gees.
Geestelike hoerery is wanneer jy as gelowige volgens die vlees wandel; daardeur kry afgode in jou lewe beslag. In die eerste deel van Rom 8 word hierdie proses verduidelik. Ons is lief om Rom 8:1 aan te haal, maar ons doen dit nie met die kwalifisering van die tweede deel van die vers nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Vanaf vers 5-8 omskryf hy die proses soos volg: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie …” Vers 13 stel dit baie sterk: “want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe”. Sterwe hier dui nie op fisiese sterwe nie, maar op verwydering van die teenwoordigheid van God, soos met Adam en Eva na die sondeval.
Dis moontlik om “in die Gees” te begin wandel, maar later deur godsdienstigheid en menslike oorleweringe “in die vlees” te eindig (Gal 3:1). Onthou dat Geeswandel nie impliseer dat jy nou volmaak is sonder enige oortredinge nie, of wêreldvreemd optree met ‘n gesindheid van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” (Kol 2:21) – dit beteken bloot dat jy gelei word deur die “promptings of the spirit” (Rom 8:13, AMP). Jy sien dinge uit ‘n geestelike perspektief, met ander woorde jy verstaan nie dinge op ‘n natuurlike wyse nie (Jud 1:10). ‘n Baie belangrike faset van wandel in die vlees is die gebrek aan kennis (Jes 5:13; Hos 4:6). Jy kom in die derde dimensie allereers deur dinge te verstaan (Efes 1:18). If you cannot perceive, you cannot receive.
- Sela: Wandel jy in die gees? (Sien vandag se Skriflesing: Jes 31:9)
- Lees: Jos 15 Est 8; Jes 31
- Memoriseer: Jes 31:1
- Vir dieper delf: Luister na Paul Sonnekus se cd-lering: Moet nie jou eersgeboortereg verkoop nie.