Dag 293

     “want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie”

(Fil 2:21, OAV)

 

Broers in die leierskap van ‘n buurgemeente het my ‘n paar jaar gelede gevra om te medieer in ‘n persoonlike saak waaroor hulle heeltyd lynreg van mekaar verskil het. Ek het al die persone van albei groepe in ‘n mate geken, almal wedergebore, Geesvervuld en manne wat werklik die wil van die Here soek. Albei groepe was baie, baie seker van hul saak, en kon nie verstaan dat die ander groep nie hul standpunt wil/kan verstaan nie. Derhalwe het hul hul op ‘n broer buite die gemeente beroep om die saak te besleg.

Ek het ‘n vergadering geroep en albei partye kortliks hul saak laat stel. Albei het dit met oortuiging én Skriftuurlike begronding van hul argument gedoen. Uit ‘n menslike oogpunt kon ek glad nie soos ‘n Salomo regspreek oor die saak nie – ek kon albei se argumente insien en selfs verdedig. Ek het gebid en die Heilige Gees vir ‘n woord van wysheid gevra, en Hy het in my gees Fil 2:21 laat val: “want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie”.

Toe ek die die woord vir hulle lees, het hulle onmiddellik stil geword en bewoë begin om God en mekaar vergifnis te vra. Albei groepe was verkeerd, al was hulle reg. Hulle het daardie dag geleer dat God nooit oortuig word deur korrekte dogma of wet nie, maar dat net die regte gesindheid van die hart by God die deurslag gee. Ons maak dikwels die fout om ons openbaring of kennis of eie verstaan van iets as norm te verhef, terwyl God soms self sy wet overrule omdat Hy ruimer dink en is as wat ons Hom kleinlik wil inperk. (Die verhaal van die honger Dawid en die eet van die verbode toonbrode in 1 Sam 21, waarna Jesus ook verwys in Mat 12, is ‘n wonderlike voorbeeld hiervan.) Die Skrif hierbo noop ons om deurgaans nie dít te soek wat ons oënskynlik as die geestelik-korrekte waan nie, maar eerder dit wat gestalte gee aan God se hart. (‘n Goeie voorbeeld hiervan is die vrou met die albaste fles wat Jesus kom salf het met baie duur en kosbare olie, terwyl die dissipels gemeen het sy moet dit eerder verkoop en die geld aan die armes gee. Lees die verhaal in Mat 26:6-13.)

Die bottom line hiervan is dat ons dikwels verbete vashou aan ‘n waarheid, openbaring,  oorlewering of oortuiging wat ons dink deur God gesanksioneer is, maar dat dit geensins Sy hart weerspieël nie. Die ergste van hierdie toestand is dat ons in (godsdienstige) eiegeregtigheid kan blý loop en so totaal buite die wil van God kan wees.

Eiesinnigheid is die godsdienstige vrug van ‘n hart wat ver van God af is en só verhard het dat die sagte stem van God deur godsdienstigheid verdring word. Die skrikwekkende hiervan is dat die persoon dit nie besef dat hy in sonde en misleiding loop nie. Trouens, 1 Sam 15:22 noem eiesinnigheid ‘n sonde van afgodery en rebellie word witchcraft genoem. Ps 51:17 spel dit uit: “Die offers van God is ‘n gebroke gees en … ‘n verslae hart …” – dit is die offers wat Hy sal aanneem, nie “korrekte” geestelike aannames nie. En dan, hierdie skrikwekkende waarheid van Spr 21:2: “Elke weg van ‘n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.”

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees of jy enige diepgewortelde eiesinnighede het.
  • Lees: Jos 16  Est 9; Jes 32
  • Memoriseer: Jes 32:15
  • Vir dieper delf: Lees hfst 5 in Brennan Manning se boek The wisdom of accepted tenderness.