“maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom”
(1 Tim 2:14, OAV)
Hierdie aspek van sonde en ongeregtigheid, the mystery of iniquity, wat IN ons werk, het vreemd genoeg ‘n baie, baie ou geskiedenis wat terugstrek tot by die tuin van Eden – dit is daarop gerig om ons wat geesmense is, in die vlees te laat loop.
Ons lees in Gen 2:9: “En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.” Eksplisiet word gesê dat die boom van die lewe in die MIDDEL van die tuin is. Middelpunt dui op die hart, die sentrum, die mees belangrike posisie. Daarnaas word die ander boom, die boom van die kennis van goed en kwaad, gestel. Oor hierdie boom het God ‘n pertinente opdrag (in verse 16 en 17): “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”
Let asseblief op: die boom van die lewe is in die middel van die tuin. In twee gevalle word van die ander boom, die boom van kennis van goed en kwaad, gepraat, en nie een keer noem God dit in die middel van die tuin nie.
In gesprek met die slang, in Gen 3, word Eva gevra na die verordening van God rondom die boom van kennis van goed en kwaad, en dan maak Eva hierdie opmerking: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.”
Hier is iets wat ons al die jare lank misgelees het. Iets radikaal het gebeur dat Eva alreeds in haar verstand (=manier van dink) die twee bome met mekaar begin verwar het. Sy sê eksplisiet: die boom van kennis van goed en kwaad is in die middel van die tuin, in die sentrum. Dis die mees begeerde boom! 1 Tim 2:14 stel dit dat Adam nie verlei is nie, “maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom”. Let op – nié: sy is verlei nie, maar sy het haar laat verlei. Sy het met ander woorde duidelik reeds ‘n bewussyn gehad dat sy verlei wil word! Voordat Eva die verbode vrug gevat het, was die saad van deception reeds in haar gesaai.
In sy seminale kunshistoriese teks Art and illusion maak Gombrich hierdie geweldige belangrike waarneming: “Expectation creates illusion.” In Die Zohar (rabbi’s deur die eeue se kantaantekeningkommentaar op o.a. die Torah) word vertel dat die slang se eintlike woorde aan Eva oor hoekom God nie wou hê hul van die boom van kennis van goed en kwaad moes eet nie, was: “With this tree God created the world.; eat you of it and you shall create worlds.” Alhoewel ons nie die rabbi’s se leringe noodwendig aanvaar nie, is dit net baie interessant dat die slang daarin kon slaag om alreeds dit wat hóm laat val het, na haar toe oor te dra, en dat hy deur ‘n valse verwagting te skep Eva in ‘n denkbeeldige wêreld of denkkonstruk vasvang.
Hieroor in die volgende manna meer.
- Sela: Maak seker dat jou konsep van god nie vals is nie.
- Lees: Jos 17 Est 10; Jes 33
- Memoriseer: Jes 33:6
- Vir dieper delf: Lees hfst 1 van John Daniel se Scarlet and the Beast (Vol II).