“A locked up garden is my sister, my bride; a locked up spring, a sealed fountain.” (Songs of Solomon 4:12, HNV).
In Joh 4:13-14 ontmoet Jesus die Samaritaanse vrou by die put. Jesus gee vir haar hierdie ongelooflike openbaring: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” Later, in Joh 7:37-39, op die laaste dag van die fees van tabernakels, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo …”
Na die doop met water, volg die doping met die Heilige Gees – dit geskied deur handoplegging (Hand 8:17). Handoplegging dra Gees oor, maar kan ook ander geeste oordra – wees dus baie seker wie vir jou hande oplê. Hande word ook opgelê, byvoorbeeld, vir die ontvangs van die genadegawes (1 Tim 4:14); wanneer mense uitgestuur word (Hand 13:3); algemene seëning (Mat 19:15); genesing (Hand 9:12). Die leer van die handoplegging is een van die fondasieleringe van die nuwe verbond (Heb 6:2).
Baie Christene het nie met hulle doop, of daarna, die doping met die Heilige Gees deur handoplegging ontvang nie. Wanneer dit nie gebeur nie, bly jy ‘n verseëlde fontein – die Lewende Waters kan nie uit jou binneste vloei nie. In die plek daarvan, sê Jer 2:13, kom daar dan ‘n godsdienstigheid: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende waters, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Gebarste reënbakke is hier simbolies vir godsdienstige aktiwiteite sonder die Heilige Gees.
As Jesus, in antwoord op die Fariseërs se volgehoue eis dat die vrou wat in owerspel betrap is, met klippe doodgegooi moes word, bloot net op die grond skryf (Joh 8:6 & 8), gee hy gestalte aan Jer 17:13: “wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat”. Dít was die duidelikste kommentaar op godsdienstige aktiwiteite wat nie Geesgelei is nie.
- Sela: Maak seker jy het die Heilige Gees deur handoplegging ontvang.
- Lees: Gen 30; Ps 20; Mat 1
- Memoriseer: Mat 1:23
- Vir dieper delf: Lees pp. 84-92 in Christo Nel se boek: Waarheen met die nuwe wyn?