Dag 300

“I said in mine heart concerning the estate of the sons of men that God might manifest them, and that they might see that they themselves are beasts.” 

(Ecc 3:18, KJV)

 

Die verhaal van die Bybel is deurdrenk met bloed. Nie vreemd dan nie dat dit die enigste “lewende” boek (Heb 4:12) in al die biblioteke van die wêreld is, want “die lewe … is in die bloed” (Lev 17:11). Daardie lewensbloed is nie net ‘n tema nie, maar ‘n misterieuse mag wat daardie onvasvatbare aspek oordra wat ons lewe noem. Die Woord het die vermoë om deur te “dring … tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg” (Heb 4:12). Ons lees dikwels hierdie versie sonder die daaropvolgende een, wat die Woord kwalifiseer nie as ‘n geskrif nie, maar as ‘n Persoon: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” Hierdie Woord, weet ons, is Jesus (wat vlees geword het en onder ons kom woon het – Joh 1:1 & 14), die Seun van die lewende God, maar is ook die Woord as die Geïnskribeerde Christus. Jesus is in totaliteit vertaal in ‘n Boek en sy LEWE pulseer daardeur (noem dit ter illustrasie die ink van die Boek wat op jou oog of oor val, en jou dan binnedring)!

Om dit net op ‘n ander manier te sê: As die Woord penetreer, is alles en almal sigbaar of gemanifesteerd, “all [things are] naked and have been exposed” (ASV). Deur die Woord wat uit God se mond uitgaan (Mat 4:4), word die woorde van die Skrif ‘n Persoon IN ons, wat alles blootlê, tot in die skemergebied tussen siel en gees waar ons keuses gemaak word.

Met die sondeval, weet ons, het die mens sy heerlikheid verloor het (Rom 3:23) – wat sy “covering” was – en het die eerste mense besef dat hulle kaal was. Kaal beteken nie allereers dat jou geslagsdele sigbaar is vir ander nie – dit was voor die sondeval ook sigbaar! Kaal is ‘n toestand van sonder die heerlikheid van God wees. Ons koppeling van naaktheid en geslagtelike bewussyn is verkeerd. Daarom is baie mense steeds verkeerdelik van mening dat die val in die tuin van Eden was ‘n seksuele sonde. (Met die arme appel – wat nie eens die vrug was nie – as die ewige simbool van seksuele verleiding!) Dis glad nie die geval nie. Seksualiteit het saam met alles in die mens en die geskape wêreld geperverteer geraak met die sondeval (Rom 8:21).

As daar in die laaste versie van Gen 2 staan: “En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie,” (:25) is die woordjie “naak” in Hebreeus arom. Die volgende sin in hierdie verhaal is Gen 3:1, wat só lees: “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het.” Die woordjie “listig” is in Hebreeus aram, die wortelbetekenis van arom. Aram beteken: “to be shrewd, subtle, crafty”. In sy naaktheid, sonder die bedekking van God se heerlikheid, is die mens uitgelewer aan sy vrye wil, wat altyd daarop gerig is om homself te bevoordeel en te vestig en in sy eie behoeftes te voorsien. Dit is die vleeslike natuur van selfgratifikasie. As die naakte mens uit ongehoorsaamheid verkeerd kies, maak hy hom los van die heerlikheid van God wat hom soos ‘n kleed bedek, en word hy kaal, “shrewd, subtle, crafty”. Adam en Eva was skaam, want deur die Woord wat tot hulle gespreek is, was hulle “naked and have been exposed” en is hulle niks anders nie as diere, soos die Prediker dit in die Skrif hierbo klinkklaar stel.

 

  • Sela: Link hierdie lering met Eseg 28.
  • Lees: Jos 23; Esra 6; Jes 39
  • Memoriseer: Jes 23:14
  • Vir dieper delf: Lees Max Lucado se God came near.