“Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak”
(Hand 17:26, OAV)
Ons is tans besig om die implikasies van die bekleding van die eerste mense, wat ‘n prototipe word van al die onskuldige bloedoffers wat vergifnis bewerk, te ondersoek. Om dit in groter diepte te verstaan, is dit nodig dat die geskiedenis van die eerste twee seuns van Adam en Eva reg verstaan word. Sodoende sal die geheimenis van die bloed op die altaar beter verstaan word.
Gen 4:1-2 vertel die verhaal: “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer.”
Dis opvallend dat daar met die verwekking van Kain eksplisiet gesê word dat Adam sy vrou beken het, dit wil sê geslagsgemeenskap gehad het, en dat sy toe ‘n seun gebaar het. In die geval van Abel word dit baie vreemd gestel: Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. Die Hebreeuse woord vir “daarna” beteken volgens Strongs: “to continue to do a thing”. Verskeie Skrif-kommentators (soos byvoorbeeld Matthew Henry en Benny Hinn) meen derhalwe dat Kain en Abel ‘n tweeling was. Persoonlik dink ek nie ‘n mens kan die afleiding maak nie, vir ‘n totaal ander rede. Alle mense het uit Adam en Eva voortgekom, weet ons uit Hand 17:26: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het …” Waar sou Kain en Abel dan hul vroue vandaan gekry het om mee te trou? Die Bybel gee nie eksplisiet die antwoord nie, maar die Joodse rabbi’s (soos byvoorbeeld Pirke Eliezer) is in hul kommentare hieroor eens dat beide Kain en Abel gebore is met ‘n tweelingsuster, met wie hul elkeen dan getrou het en waaruit hul nageslag verwek is. (Die wet van Moses, wat gemeenskap met jou suster verbied, het eers lank daarna beslag gekry het – Deut 27:22. Daarbenewens was die gene-poel grootliks ongekontamineerd deur ongeregtighede.)
Dus as Kain en Abel nie ‘n tweeling was nie, is dit uit ‘n geestelike oogpunt tog van groot belang dat dit so eienaardig gestel word: “Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar.” Ek verstaan dit op ‘n totaal ander wyse. Die Woord leer ons dat die ganse Ou Testament ‘n allegoriese betekenis in die Nuwe Testament verkry. Die Rots wat geslaan is, is nie net ‘n Rots nie, maar Jesus. So word Jona in die vis ook, byvoorbeeld, ‘n prototipe van Jesus. Die Rooi See word sinnebeeld van die doop van die gelowige, Egipte die land van slawerny waar ons in die wêreld gebind is, en so meer. Paulus sê duidelik dat al hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons (1 Kor 10:11). Die prototipiese betekenis wat Kain en Abel dra, is gesetel in die feit dat hul die eerste ‘produk’ is van die gevalle oervader- en moeder. Alhoewel hul nie ‘n tweeling was nie, was hul “baring” duidelik ‘n aksie wat die twee in ‘n direkte geestelike verhouding met mekaar laat staan. Die eersgeborene word Kain genoem, wat beteken “possession” en “smith”. Eva was só beïndruk dat sy ‘n man kon voortbring, dat sy hom dié naam/identiteit gegee het. In die “verdwaasdheid van haar gemoed” (Efes 4:17; 2 Kor 11:3) van die nou vreeslik vleeslike oermoeder het Abel nie veel getel nie, en is hy benoem met die naam: “Vanity” Wat sou dit vir ons kan inhou?
- Sela: Probeer Kain en Abel prototipies verstaan.
- Lees: Lev 1; Esra 8; Jes 41 (veral vers 4)
- Memoriseer: Jes 41:18-20
- Vir dieper delf: Lees Benny Hinn se boekie Die Bloed.