Dag 304

“nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed … en ‘n ewige verlossing teweeggebring”

(Heb 9:12, OAV)

 

In die vorige manna het ons gekyk na die prototipiese betekenis wat Kain en Abel dra, en dat hul verhouding die komplekse aard tussen die geesmens en die vleesmens simboliseer. Benewens al die verskille tussen Kain en Abel, is dit veral belangrik om te let daarop dat Abel se offer aanvaar is, maar Kain s’n nie (Gen 4:3-4). Alhoewel elkeen iets gebring het van sy nering, die een ‘n landbouer en die ander ‘n veeboer, het dit nie soseer daarmee te doen nie. Heb 11:4 verduidelik wat hier gebeur het: “Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het …”

Geloof is nie ‘n blinde daad nie, het ons in Dag 17 van die manna al verduidelik; geloof is gebaseer op dít wat God gesê het. Die geloof, stel Rom 10:17 dit onomwonde, is uit die gehoor. As Heb 11:4 dus sê dat Abel deur die geloof ‘n beter offer gebring het, is dit omdat hy gehoor het wat God vereis: ’n bloedoffer. Dat Kain geweet het dat hy moeite moes doen om ‘n bloedoffer te bring, blyk duidelik uit sy reaksie: “Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen 4:5b-7). Die Darby-vertaling gee dit só weer: “If thou doest well, will not thy countenance look up with confidence?” He knew he did wrong.

As ‘n mens weet wat God vra, en dit nie doen nie, bewandel jy “die weg van Kain” (Jud 1:11). In 1 Joh 3:12 word die hele geskiedenis só opgesom: “nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.”

‘n Bloedoffer van iemand wat righteous is, is “regverdige bloed” (Mat 23:35), en bied regverdigmaking.

Uiteraard is die bloed van al die diere wat geoffer is, onvolledig gewees, en moes dit perpetueel plaasvind “anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie” (Heb 10:2). Vers 4 stel dit onomwonde uit: “want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem”. ‘n Groter, more excellent, offer was nodig. Alhoewel die bloedoffer van Abel dus van goeie dinge gespreek het (Heb 12:24), was dit noodsaaklik om die bloedoffer van ‘n ander onskuldige Lam te kry, “die kosbare bloed van Christus … ‘n  lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet 1:19), wat ‘n “ewige verlossing” (Heb 9:12) sou teweegbring, wat van die beste, the more excellent (Prov 12:26; Rom 2:18; 1 Cor 12;31) spreek.

Regverdige bloed (Mat 23:35) het ‘n stem; God het dit gesê toe Abel se bloed uit die grond uit roep (Gen 4:10). Abel se bloed spreek van beter dinge (Heb 12:24). Die bloed van die martelare roep uit met ‘n groot stem (Open 6:9-10). As die Hebreërboek dan begin met: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun”, is dit Sy regverdige bloed wat ‘n stem geword het. His blood has a voice!

 

  • Sela: Bid Ps 29 deur.
  • Lees: Lev 3; Esra 10; Jes 43
  • Memoriseer: Jes 43: 18-19
  • Vir dieper delf: Luister na Johann Pienaar se cd-lering: Die stem in die woestyn.