Dag 306

“sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar”

(Mat 23:35, OAV)

 

Jesus se woorde, in die aanhaling hierbo, het geweldige implikasies. Hy is hier in gesprek met die Fariseërs en Skrifgeleerdes oor die hele kwessie van die tradisie van onskuldige bloed wat verspil is en wat die effek daarvan is op die land en die generasie wat dit bewoon. In ‘n latere manna gaan ons spesifiek kyk na die effek van bloed op die grond, maar nou eers is dit belangrik dat Jesus hier praat met die gelowiges van die dag. (Ons het met die loop van tyd ongelukkig ‘n negatiewe bevooroordeelde betekenis geheg aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes met wie Jesus so streng mee gehandel het. Hulle was egter die toonbeeld van die geloofslewe-in-aksie in hul tyd. Hulle het absoluut erns gemaak met hulle geloofsoortuiging en het geweldig moeite gedoen dat hul geloof met hul lewe geïntegreer word. Hulle was maar net gelowiges soos ons vandag is.)

In vers 30 herhaal Jesus wat Hy die Fariseërs en Skrifgeleerdes hoor praat het: “en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie”. In die driftige argument wat volg, verduidelik Jesus in geen onseker terme nie dat hulle wél nog deel het aan die bloed van die profete wat onskuldig doodgemaak is. Hy haal dan die geskiedenis van Abel aan, wat ons reeds ken, asook die geskiedenis van Sagaria uit 2 Kron 24:20-22: “Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat. Daarop smee hulle ‘n sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die HERE. En koning Joas het nie gedink aan die guns wat sy vader Jójada aan hom bewys het nie en het sy seun vermoor. Maar toe dié sterwe, het hy gesê: Mag die HERE dit sien en rekenskap vorder!”

As mens dié geskiedenis so verbatim hoor, kan jy nie anders as om in jou geestesoog die steniging van Stefanus, die eerste martelaar, te sien (en te hoor) nie – dis skrikwekkend dieselfde: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het … En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.  Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig.” (Hand 7:51-58).

Tussen die voorhof en die altaar, het Jesus gesê, en na Homself as die Altaar verwys.

 

  • Sela: Gaan vers vir vers deur die drie lang passasies hierbo en vergelyk die ooreenkomste.
  • Lees: Lev 5; Neh 2; Jes 45
  • Memoriseer: Jes 45:11
  • Vir dieper delf: Luister na Matzie Lee se cd-lering: “How glory departs – Vangstrikke op ons pad na/van Kabod”.