Dag 307

“shedding in her midst the blood of the righteous”

(Lam 4:13, YLT)

 

Hierdie manna moet asseblief saamgelees word met die vorige een. Dit is nodig om ‘n paar drade saam te trek en die implikasies duideliker uit te spel. Ons het deurgaans in hierdie afdeling oor die koperaltaar daarop gewys dat dit prototipies heenwys na die kruisdood van Jesus, die Offerlam van God (Joh 1:29). Heb 13:10 sê ons het in die Nuwe Verbond ‘n ander altaar as die koperaltaar –  Jesus is nou die altaar. Die vorige twee mannas het gehandel oor die bloed van heiliges wat verspil word “tussen die voorhof en die altaar”. Hierdie woorde van Jesus wys heen na die gebeure rondom die dood van Abel en Sagaria. Dit wat gespreek is met die dood van albei is bykans net so gespreek met die dood van die eerste nuweverbond-martelaar, Stephanus (‘n gebeurtenis van die allergrootste belang in die profetiese tydvoltrekking – later meer daaroor.).

Jesus se sterk woorde in Mat 23 aan die kerkeleiers van sy dag profeteer as ‘t ware ook sy eie dood as profeet, waaroor Stephanus op sy beurt weer profeteer in Hand 7! Al hierdie stemme profeteer dieselfde ding, oor eeue heen, en sê dat ons almal in die kerk (“tussen die tempel en die altaar”) beskou kan word as die “verraaiers en moordenaars” van Jesus en al die ander profete wat die openbaring van Christus laat ontvou het. Daardie onskuldige bloed het korporatief oor ons almal gekom. As gevolg van die waarheid en openbaring WAT ALTYD ONTVOUEND is, het ons deel gehad aan die tradisies van ons vaders wat die profete wat hierdie waarheid gebring het, in die kerk doodgemaak het.

Uiteraard nie altyd fisies nie – die klip (=wet/oorlewering) wat met die mond gegooi word, maak ewe seer, dood verseker ook profete.

‘n Praktiese illustrasie. Niemand betwis die Godgegewe rol wat Martin Luther gespeel het in die Reformasie nie, en die belangrikheid van daardie ontvouende waarheid nie. Maar Luther was ook verantwoordelik vir die moord op miljoene dermiljoene gelowiges wat geglo het in die doop van die gelowige. Elkeen van ons met ‘n Gereformeerde fondasie (en dit sluit AL die Hugenotefamilies, byvoorbeeld, in) het bepaald verrekening om te doen oor wat tussen die tempel en die altaar gebeur het.

Moses se smeekgebed in Deut 21:8 besonder rigtinggewend: “Doen versoening vir u volk Israel wat U, o HERE, verlos het, en laat geen onskuldige bloed op u volk Israel rus nie, en laat die bloedskuld vir hulle versoen word.” (Onthou asb dit wat ons vroeër in Manna 242 in detail bespreek het – dat die “ware Israel” is die seuns van Abraham, elkeen wat wedergebore is – Gal 3:29). As jy nie die skuld begryp waaraan jy deel het met die dood van Abel, Sagaria, Jesus, Stephanus en al die ander martelare nie, sal jy NIE sal “prosper” (2 Chron 24:20) nie. In die oorspronklike taal beteken dié woord, sê Strongs, “to push forward, …break out, come (mightily) … be profitable”. Dit gebeur nie met ons nie, want ons is priesters wat blind deur die strate waggel, met bloed bevlek, sodat ‘n mens hulle klere nie kon aanraak nie (Klaagl 4:14). ‘n Gebrek aan identifikasie met die lyde van Christus verhoed dat jy ontvouende openbaring ontvang en maak jy ook die profeet tussen die tempel en die altaar dood met jou nie-verstaan.

 

  • Sela: Bely voor die Here jou kollektiewe aandeel aan die slagting van profete.
  • Lees: Lev 6; Neh 3; Jes 46
  • Memoriseer: Jes 46:10
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering:  Die geestelike beginsel van ontvouende openbaring.