Dag 308

“Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” (Mat 27:24, OAV)

 

Die vorige paar mannas het gehandel oor die aandadigheid wat ons het aan die bloed van almal wat deur ons, en ons voorvaders, met ons woord of daad doodgemaak is, met klippe of tong. Die Skrifte sê ons dra saam met ons gelowige vaders wat gedink het hul handel om die werk/kerk van God te bewaar en te beskerm, swáár aan broers se bloed wat onskuldig gevloei het. Dis die rede waarom ons nie prosper nie, nie vooruitgaan nie. Ons is die “verraaiers en moordenaars” van Jesus en al die ander profete wat die openbaring van Christus laat ontvou het, maar wat ons uit ons beperkte godsdienstige verstaan nie wou akkommodeer nie.

Rob Bell gebruik in sy boek Velvet Elvis die beeld van ‘n uitsonderlik mooi skildery van Elvis Presley wat hy besit. Hy sou kon sê dat dit die mees ongelooflike artistieke vermoë is wat hierdie pragtige kunswerk tot stand gebring het. En eintlik, redeneer hy, sou ‘n mens kon sê dit kan nie beter nie, en derhalwe moet daar nie verder geskilder word nie – hierdie is die absolute ultimate in skilderkuns.

Jy sal saamstem dit is totaal onsinnig om so te redeneer. Maak nie saak hoe mooi of tegnies perfek die skildery is nie, dit beperk nie die ruim verskeidenheid ander moontlikhede met verf en kwas nie. Selfs kinderkuns is partykeer van groter waarde as die duurste skildery van ‘n ou meester. Tog, argumenteer Bell, is dit presies ons ingesteldheid ten opsigte van geloofsake. Ons geloofsoortuigings is ‘n Velvet Elvis. Ons godsdienstige beskouings is uit ons oogpunt perfek en voltooid en afgehandel en hang geraam teen die muur van ons lewe. Niemand is lus om opnuut daaraan te gaan verf nie – die prentjie wat jy het is té volmaak.

Die gevaar hiervan is dat ons God uiteindelik inbox in ons absolute beperkte verstaan van ons skildery van Hom. Die ironie is boonop – dis lank nie meer ‘n skildery nie, dis bloot ‘n vae kopie van ‘n kopie van ‘n vergange kopie wat ons van die oorspronklike skildery het. Ons weet nie eens meer wie se handtekening onder aan die skildery is nie, maar dit maak nie saak nie – ons voel tog so veilig om God tussen vier rame te kan vasspyker en Hom beheer. Dikwels gaan geloof oor die vastighede van doktrine waarmee ons God wil beheer, sodat Hy ons nie kan beheer nie.

In ‘n groot mate is ons verstaan van die kruis van Jesus ‘n pragtige voorbeeld van ‘n Velvet Elvis. Ons weet dit is belangrik, maar kan moeilik indink hoekom Paulus sou kon sê in 1 Kor 2:2: “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde”. Dis Paulus se manier van sê: die kruis is die mees belangrike faset van alle moontlike Godskennis. Helaas het ons dit deur ons oorgelewerde tradisie so vereng dat dit die volle betekeniskrag daarvan verloor het.

Waarom het Pilatus toe hy Jesus tot ‘n kruisdood moes veroordeel, “sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” (Mat 27:24). Presies dieselfde woorde is Judas toegesnou toe hy berou gekry het vir die verraadsdaad van Jesus: “Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!” (Mat 27:4)

Jy kan toesien beteken: “that is your business” (WNT). Myne en joune – ons moet toesien.

 

  • Sela: Probeer biddend sela oor hierdie lering aan die hand van Sag 12:10.
  • Lees: Lev 7 (baie belangrik vir hierdie lering); Neh 4; Jes 47
  • Memoriseer: Neh 4:15
  • Vir dieper delf: Lees hfst 2 van John MacArthur se The love of God.