
“En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Mat 27:25, OAV)
Uit net die verhoor van Jesus blyk dit dat Pontius Pilates ‘n uiters regverdige man was, ‘n filosoof vir wie dit belangrik was om te bepaal wat die waarheid is (Joh 18:38). Hy het geluister na sy vrou se waarskuwing na ‘n geestelike droom wat sy gehad het oor die onskuld van Jesus (Mat 27:19). In teenstelling met die dissipel van Jesus, Simon Petrus, wat Hom drie keer verloën het (Mat 26:75), het die heidense Pontius Pilates drie keer in die openbaar geproklameer dat hy geen fout vind met Jesus nie (Luk 23:4, 14 en 22)!
Hierdie optrede van hom in hierdie spesifieke situasie is egter lynreg teen wat algemeen van hom gesê word en wat die geskiedskrywers oor hom berig. Byvoorbeeld: In Luk 13:1 word getuig: “En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.” Hierdie gruweldaad spreek van iemand wat geen ontsag het vir gelowiges of die wet van God nie. Die International Standard Bible Encyclopedia haal die historikus Philo aan wat Pilatus se optredes in die sterkste moontlike terme veroordeel: “Pilate was a man of a very inflexible disposition, and very merciless as well as obstinate. Philo calls him a man of most ferocious passions, and speaks of his corruption, his acts of insolence, his rapine, his habit of insulting people, his cruelty, his continual murders of people untried and uncondemned, and his never-ending and most grievous inhumanity.” Waarom sou hy Jesus dan wou vrylaat?
John Gill’s Exposition of the Entire Bible beweer na aanleiding van oerbronne oor Pilatus: “(he was) notoriously guilty of receiving bribes, of injuries, rapine, and frequent murders of persons uncondemned”. Dis dan veral baie belangrik dat Pilatus (wat Jode gehaat het), toe hy Jesus tot ‘n kruisdood moes veroordeel, “sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” (Mat 27:24).
Dis baie belangrik om raak te sien dat hierdie daad van handewas heeltemal buite Pilatus se karakteraard is, veral as ons weet dat hy volgens die heidense historikus Eusebius (in sy Historia Ecclesiastica, II) selfmoord gepleeg het. Josephus sê “(he was) wearied with misfortunes”.
Die handeling om sy hande te was in onskuld kan bes moontlik dui op die verontskuldig-ingsdaad wat Deut 21:6-7 voorskryf (al het hy dit heel moontlik nie eens geweet nie): “En al die oudstes van dié stad wat die naaste woon aan hom wat gedood is, moet hulle hande was oor die koei waarvan die nek in die dal gebreek is; en hulle moet verklaar en sê: Ons hande het hierdie bloed nie vergiet nie, en ons oë het dit nie gesien nie.”
Pilatus wou onder geen omstandighede skuldig wees aan die onskuldige bloedvergieting van Jesus nie. Hy, as heidense regter, moes die getuienis van Jesus se onskuld (teen sy karakteraard in) proklameer, en sy hande in onskuld was, sodat die Jode in een kollektiewe stem namens nie mensdom kon sê: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Mat 27:25).
Die onskuldige vloei van die bloed van Jesus is inderdaad “our business” (Mat 27:24, WNT). Myne en joune.
- Sela: Verootmoedig jou voor die Here oor hierdie uiters belangrike saak.
- Lees: Lev 8; Neh 5; Jes 48
- Memoriseer: Jes 48:17
- Vir dieper delf: Lees in Richard Andrews se boek Blood on the mountain, pp 174-181.