Dag 313

“Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”

 (Joh 6:56, OAV)

 

In Luk 22:20, met die laaste pasga en die instel van die nagmaal, maak Jesus hierdie ongelooflike stelling: “Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.” ‘n Mens is so gewoond aan hierdie vertroude woorde dat jy nie die volle betekenis altyd agterhaal nie.

In die lig van wat met die vorige twee mannas gesê is, hou in gedagte dat hierdie instelling plaasgevind het met die fees van Pesach (Luk 22:7-9). Die fees van Pesach, die fees van die ongesuurde brood en die fees van die eerste vrugte is saam gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11–12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en ’n week geduur. Hierdie eerste fees van die Israeliete is primêr ingestel as ‘n herdenking van die reddingsgebeure wat plaasgevind het toe God die Israeliete uit die land van slawerny verlos het en onderweg gesit het na die land van belofte. Derhalwe het God hierdie verordening gemaak: “Onderhou die maand Abib en hou pasga vir die HERE jou God; want in die maand Abib het die HERE jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei.” (Deut 16:1).

Die simboliek verbonde aan die feeste van Pesach en die fees van die ongesuurde brode is ooglopend: Christus ons Paaslam, sonder sonde (=suurdeeg), bloed aan die deurposte (Christus die deur – Joh 10, maak verlossing moontlik) –  1 Kor 5:7-8: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.”

Dis Goddelik gesinchroniseer dat die parallelle events waartydens die sluiting van die Ou Verbond en die Nuwe Verbond plaasgevind het, oormekaarskuif. Soos die bloed van die paaslam  ‘n covering vir Israel gebring het, het die bloed van Jesus ‘n covering vir elkeen gebring wat dit ontvang het.

Maar die Nuwe Verbond, omdat dit nie ekstern is soos die Ou Verbond nie, vereis ‘n verdere internalisering – jy moet die bloed drink! In Joh 6:53-55 spel Jesus dit so uitdruklik uit: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.”

Dan, in die volgende versreël, maak Hy hierdie ongelooflike stelling: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”

Benewens dat die belangrikheid van die nagmaal hiermee weer duidelik geaksentueer word (sien ook Mannas 89-96), is dit egter meer as dit. Byvoorbeeld: Joh 15 vou onmiddellik oop as jy  Joh 6:56 lees. Maar meer daarvan later.

 

  • Sela: Het nagmaal in die lig van die lering en Joh 15 ‘n dieper betekenis wat jy kan agterhaal?
  • Lees: Lev 12; Neh 9; Jes 52
  • Memoriseer: Jes 52:11
  • Vir dieper delf: Lees Watchman Nee se Back to the cross om die oorgang van hierdie faset van die kruis na die volgende faset beter te verstaan.