“Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”
(Joh 5:56, OAV)
Ons het in die vorige mannas gesien dat die bloed van Jesus allereers ‘n getuie is, maar ook tweedens dat die bloed van Jesus ‘n stem het. Die derde betekenis van die belangrikheid en betekenis van die bloed van Jesus kry ons in Luk 22:20 waar Hy verduidelik: “die beker is die nuwe testament in my bloed”. Maar eers moet ons sekere mistastinge hierrondom hanteer.
Rondom die beker is met die loop van eeue ‘n hele mitilogie opgebou, as sou dit bonatuurlike magiese kragte of betekenis hê (byvoorbeeld: dit is gesien as “die heilige graal” waarna soveel mense deur die loop van eeue gesoek het om bonatuurlike mag te bekom). Dit is egter nie so nie. Die beker (soos ook die swaard waarmee Christus in die sy gesteek is, die sogenaamde Turinkleed waarin Christus toegedraai is, en ander relieke) het nie in sigself ‘n krag nie. Soos die slang op die koperpaal ‘n afgodsobjek geword het (Num 21:8-9; 2 Kon 18:4), kan al hierdie objekte ook okkultiese magte en krag genereer.
Dieselfde is die geval van beelde van Christus of Maria wat begin bloed huil – daar is geen “salwing” of magiese krag wat van dié dooie goed verkry kan word nie – Hag 2:12 spel dit eksplisiet uit. Paulus gaan so ver as om in 2 Kor 5:16 dit selfs van Jeus te sê: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.”
Geen plek, geen gebou, geen objek is per definisie heilig nie. Die grond waarop Moses gestaan het toe die doringbos brand sonder om uit te brand, was heilig, omdat God daar was, nie omdat die grond as sodanig heilig is nie. In dieselfde sin het mense allerhande geestelike hoendervleis as hulle byvoorbeeld Israel besoek en sekere dinge ervaar wat hulle dink geestelik is – dis hoogstens die “grootsheid” van die gedagte dat sekere goed histories hier plaasgevind het dat ‘n mens dit aan ‘n geestelike ervaring gelykstel, maar dit is bes moontlik misleidend en het, met respek gesê, dieselfde betekenis as ek wat in Clarens in ‘n gastehuis op dieselfde toilet sit as Brad Pitt J.
Daar lê geen heil in enige godsdienstige ritueel as sodanig nie. Byvoorbeeld: baie gelowiges trek elke oggend getrou die wapenrusting van God aan (Efes 6:10-18) en dink as hulle dit gedoen het, hulle nou geestelik goed geklee is. Dit vra egter nie ‘n ritueel nie, maar ‘n daaglikse daadwerklike gebruik van al die wapens wat jou geestelik posisioneer. Eweneens is die bloed en die wyn van die nagmaal nie heilig (soos byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk glo) nie. As die broodjie (of dan beskuitjie) per ongeluk val, is dit nie die Liggaam wat val nie. Die heil lê nie in die brood of die wyn of selfs die gebruik daarvan nie – Jesus het Joh 6:53 uitgespreek lank voor die instelling van die nagmaal. Dit gaan oor die lewe wat in Hom is wat in ons gestalte moet kry deur ons intieme verbintenis met Hom (soos Joh 15 baie duidelik uitspel).
Die beker word in Luk 22:20 metonimies gebruik – metonimia is ‘n literêre stylfiguur waar die deel as die geheel voorgehou word. As iemand sou sê: hy drink ‘n bitter beker, is dit nie die beker (geheel) wat bitter is, maar die inhoud (deel). In die uitspraak van Jesus lê die klem derhalwe glad nie op die beker nie, maar op die bloed.
- Sela: Waarvan maak jy ‘n geestelike afgod?
- Lees: Lev 13; Neh 10; Jes 53
- Memoriseer: Jes 53:5
Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die afgode in jou lewe