Dag 315

“Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Mat 26:28, OAV)

 

Die bloed van Jesus lei die Nuwe Verbond tussen God en die mens in. Bedink hierdie gedagte net ‘n oomblik, want dit het geweldige implikasies.

Allereers: nét as jy die bloed van Jesus aanneem, kan jy deel hê aan die Nuwe Verbond. Almal daarbuite staan steeds onder die Ou Verbond, “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efes 2:12). Dit sluit, byvoorbeeld, die Jode in. Sedert die “slagoffer en die spysoffer” (Dan 9:27) opgehou het nadat die stad en die heiligdom verwoes is (Dan 9:26) in 70 n.C., is ‘n “Gesalfde” opgebou (Dan 9: 25) in die plek daarvan. Hierdie Gesalfde is Jesus, die Verlosser van die wêreld.

In sy kommentaar op Dan 9:27 kom Albert Barnes in sy Notes on the Bible to die ontsettend belangrike gevolgtrekking, naamlik dat die dissipels “had to turn away from the ‘covenant people’, and to go to the Gentiles”. Daardeur “he shall make a firm covenant with many” (Dan 9:27, ASV), wat dan in der waarheid die aanbied van die Nuwe Verbond was aan almal wat nie-Jood was nie. Die misverstaan van hierdie gedeelte in die profetiese boeke van Jeremia en Daniël is die grondoorsaak van die dwaalleringe rondom die Jode, die wegraping asook die groot verdrukking. (Later gaan ons in meer detail hierop in. Sien intussen Dieper delf.)

Wat presies behels hierdie Nuwe Verbond, hierdie “bloed van die (nuwe) testament” (Heb 10:29)?  Rom 3:25a stel dit mooi: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof”. Die Good News Bible vertaal dit raak soos volg: “God offered him, so that by his blood he should become the means by which people’s sins are forgiven through their faith in him.” Jesus het dus as ‘t ware “ons vir God met sy bloed gekoop” (Open 5:9). As gevolg van daardie volmaakte offerbloed kan Efes 2:13 moontlik word: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.” Open 1:5 verduidelik dat ons is van ons sondes skoongewas deur Sy bloed. Dít is wat Jesaja geprofeteer het baie jare tevore: “al was julle sondes soos skarlaken dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes 1:18b). Dit is eintlik net ‘n poëtiese manier om in die woorde van Efes 1:7 te sê: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade”. Of Kol 1:14 – “in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes”.

Maar die bloed bied nie net reiniging nie – dit bied ook regverdigmaking (1 Tim 3:16), die tweede fokus waarop ons nou al sedert Manna 272 aandag skenk! Rom 5:9 stel dit so: “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”

 

  • Sela: Kry ‘n herwaardering vir die bloed van Jesus.
  • Lees: Lev 14; Neh 11; Jes 54
  • Memoriseer: Jes 54:17
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Ons oorgelewerde denke rondom die eindtye nuut deurdink: Daniël se tydlyn, die wegraping, die groot verdrukking en die herstel van alle dinge.