Dag 316

“Julle is gekoop, en die prys is betaal.”

(1 Kor 6:20, NV)

 

Die terme wat gebruik word wanneer die bloed van Jesus ter sprake is, is dikwels vir die meeste mense erg vreemd. Om gewas te word in bloed, klink nie heeltemal aangenaam op die onbesnede oor nie. Dieselfde as mens sê: die bloed het ons vrygekoop. Wat presies beteken hierdie handelsterm in ‘n geloofsraamwerk? Wie skuld wie? Waarom moet bloed die kommoditeit wees waarmee betaal moet word? En hoekom is ek deel van ‘n transaksie sonder dat ek ‘n sê gehad het in die saak?

Ons het redelik deeglik die geskiedenis van Lucifer vroeër uitgepluis en uitgewys dat ‘n derde van die hemelse magte het Satan nagevolg in sy rebellie, en hulle is saam met hom uit die koninkryk van God gewerp. Hulle het – bloot op grond van God se regverdigheid – ‘n derde van die kosmiese heelal gekry om oor te regeer, wat dan bekend staan as die koninkryk van die duisternis (Open 16:10). Deel hiervan was die planeet aarde. Alhoewel die aarde en die volheid daarvan aan God behoort (Ps 24:1), regeer God dus nie die aarde nie (1 Joh 5:19). Adam se keuse om ongehoorsaam te wees aan God, het die ganse menseras in hierdie gevalle toestand van sonde gedompel. Eph 2:2 in die Contemporary English Version spel dit raak uit: “ the devil … rules the world, and has spiritual power over everyone who doesn’t obey God.” Rom 3:23 bevestig dan: “die loon van die sonde is die dood”. Hiervan is ek en jy losgekoop: van sonde, van die mag van die dood, van die heerskappy van Satan oor jou lewe. Dit alles het jou ‘n slaaf gemaak in die koninkryk van duisternis (2 Pet 2:19). Jesus se bloed het jou legitiem kom loskoop daarvan. Inderdaad: “julle is gekoop, en die prys is betaal.” (1 Kor 6:20, NV).

Maar dis ook meer as dit: Gal 3:13-14 stel dit so: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—  sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.” Jy word nie net losgekoop van die vloek van die wet en die dood nie, jy kry ook daarmee saam die seën van Abraham, en die belofte van die Heilige Gees!

God verbied ons om uit twee verbondsbekers te drink. “En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie.” (1 Kor 10:20b-21). Loskoping is dus deel van die wetlike transaksie, want daarsonder kan ons nie die vrywillige slaaf (Eks 21:5-6) van Jesus word nie.

Inderdaad het die Here ons gekoop (2 Pet 2:1) – Hy het sy lewe gegee as losprys vir baie, (Mat 20:28). Dit is ‘n wettige transaksie.

 

 

  • Sela: Sê vir Hom dankie vir die loskoping.
  • Lees: Lev 15; Neh 12; Jes 55
  • Memoriseer: die hele Jes 55
  • Vir dieper delf: Lees pp242-249 in Denise Woods se boek Oes die stormwind van volksgodsdiens wat spesifiek handel oor die onderwerp handel.