“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. ”
(Efes 2:13, OAV)
Die bloed van Jesus het geweldig byvoordele wat Hy daarmee “bewerk” (Heb 5:9) het vir ons. In afsluiting oor hierdie afdeling oor die volledige implikasies van die bloed van Jesus, is daar heelwat dinge “wat saamhang met die saligheid” (Heb 6:9) waarop ons moet let.
Eerstens: Kol 1:20 maak hierdie merkwaardige stelling: “en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele”. Die stort van die bloed van Jesus het alles in die geskape heelal weer die moontlikheid gebied om met God versoen te word. Na die sondeval is alles deur die sonde gekontamineer (Jes 53:6), dit het verval en dood deelagtig geword (Rom 3:23) en is van God verwyder (Efes 2:14) – ons het gebroke mense in ‘n ontluisterde wêreld geword. Alles het verword, met ander woorde, in fisikataal – alles neig van ‘n toestand van orde na ‘n toestand van wanorde. Dit is van toepassing op alle sienlike én onsienlike geskape dinge, want al dié dinge het uit HOM ontstaan: “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape”. Inderdaad: in Christus Jesus het alle dinge wat vroeër ver was, “naby gekom deur die bloed van Christus” (Efes 2:13).
Let op: dit het nog net naby gekom, dit is nog nie versoen nie – soos in die vorige manna verduidelik is, moet die bloed eers apply word om die versoening te bewerkstellig. Daarom is die “woord van die versoening” (2 Kor 5:19) aan elkeen van ons in die Nuwe Verbond toevertrou en aan elkeen ‘n “bediening van versoening” (vers 28) gegee.
Onderliggend aan hierdie waarheid oor die bloed van Jesus lê ‘n geweldig belangrike fondasielering: God doen niks tensy Hy deur biddende geloofsmense daaraan gestalte gee nie. Hierdie waarheid kan klink of dit God se soewereiniteit opponeer, maar dis nie die geval nie. Dutch Sheets, in sy Intercessory prayer, vra dan ook tereg: “Does a sovereign, all-powerful God need our involvement or not?”
In ‘n groot mate word die Protestantse geloofsleer gerig deur die soewereiniteit van God, en die persepsie dat God net kan maak soos Hy wil – Hy is immers die Opperheerser oor die heelal, die Alleenbesluiter wat spreek en dit gebeur (Eseg 12:28). Dis egter veel meer kompleks as dit. Iemand soos die teoloog Arthur Pink (in sy The attributes of God) gebruik byvoorbeeld Rom 9:18 om uiteindelik te leer dat God net kan doen wat Hy wil, al kom dit vir die mens onregverdig voor: “So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.” Dit klink nie of die mens enigsins ‘n inspraak kan hê by God nie.
Tog weet ons dit is nie waar nie. Waarom sal Jesus ons enigsins leer om te bid as gebed nie God se hart kan draai, en sy Wil beïnvloed nie? Hoekom enigsins bid as alles klaar nét deur die Wil van God bepaal word? Ons moet hieroor meer duidelikheid in die volgende manna kry.
- Sela: Probeer vir jouself uitmaak hoe/of jy jouself as ‘n “medewerker”(1 Kor 3:9) van God beskou.
- Lees: Lev 16; Neh 13; Jes 56
- Memoriseer: Jes 56:7 (let op die sinchronisasie!)
- Vir dieper delf: Lees hfst 6 in Pink se The attributes of God.