Dag 318

“The heaven … the Eternal holds himself, the earth He has assigned to men.”

(Ps 115:16, MT)

 

Dikwels verduidelik teoloë wat oor die soewereiniteit van God as ‘n persoonlikheidsattribuut teoretiseer dit los van God se ander persoonlikheidseienskappe. Ons weet dat God byvoorbeeld barmhartig is – ‘n duidelike kenmerk van God se persoonlikheid (Ps 103:8) –  maar dan is Hy ook regverdig (Dan 9:14), ‘n ander eienskap van Sy persoonlikheid. Hierdie twee eienskappe, byvoorbeeld, moet as ‘n paradoks verstaan word, ‘n skynbare teenstrydigheid wat saambestaan  en  mekaar nie uitsluit nie. So is dit ook met verskeie ander eienskappe van sy persoonlikheid die geval.

Die hele Skrif is deurspek van perspektiewe op die soewereiniteit van God. Sien byvoorbeeld ‘n Skrif soos Ps 135:6: “Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.” In Dan 4:35 word dit só skerp gestel: “En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?”

Tog is dit nie die volle prentjie nie. Paulus praat in 1 Kor 3:9 dat gelowiges ook “medewerkers van God” is. ‘n “Medewerker” in Grieks is sunergos, wat ‘n samestelling is van saam met + werk. Maar die Strongs sê van “saam met” die volgende: “A primary preposition denoting union; with or together … that is, by association, companionship, process, resemblance, possession, instrumentality, addition, etc.: – beside, with. In compounds it has similar applications, including completeness.”

Die mens is dus complete partners met God in alle sake op aarde. Ons weet reeds dat Hy nie die aarde beheer nie (1 Joh 5:19), slegs deur die seuns van God (Rom 8:14) gestalte gee aan Sy wil. Hy doen niks as Hy dit nie eers aan sy profete bekendmaak nie (Luk 1:70; 2 Pet 1:21). Omdat Hy liefde is en nie die mens (of selfs die ander geestelike wesens) se wil kan ignoreer nie, KIES Hy in lyn met sy karakteraard om nie te handel behalwe deur sy seuns op aarde nie. Anders gestel: uit keuse kan God niks op aarde doen behalwe deur sy kinders nie.

Dis ‘n skrikwekkende waarheid.

God is dus slegs die Koning in sy Koninkryk deur ons wat in die hemele gesetel is in Christus aan die regterhand van God en vandaar sy outoriteit uitoefen (Efes 2:6). Dit is Sy keuse! Dit was van die begin af met Adam God se keuse vir die mens – lees Gen 1:26-28, en Ps 8:3-8. Vers 6 sê: “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel.” Die woordjie in Hebreeus vir “heers” impliseer: “manager, steward, governor, mediator, go-between, representative”! Ps 115:16 (Moffatt Translation) stel dit onomwonde: “The heaven … the Eternal holds himself, the earth He has assigned to men.” Dutch Sheets formuleer dit só raak: “So complete and final was God’s decision to do things on earth through human beings that it cost God the Incarnation to regain what Adam gave away.”

 

  • Sela: Verduidelik die soewereiniteit van God aan iemand.
  • Lees: Lev 17; Hag 1; Jes 57
  • Memoriseer: Hag 1:6
  • Vir dieper delf: Lees op p 622 die lemma oor “Sovereignty” in FJ Dake se God’s plan for man.