“oorwin deur die bloed van die Lam ”
(Open 12:11, OAV)
In die vorige twee mannas het ons die klem laat val op die bloed van Jesus wat ons in staat stel om ‘n bediening van versoening te kan hê. Ons het die oeroue debat oor die soewereiniteit van God versus die mens se vrye wil en die roeping tot heerskappy op aarde daarby aangesny. ‘n Laaste belangrike teksvers wat ons daarrondom wil voorhou: “Jesus must remain in heaven,” sê Acts 3:21 (GNB) tót “die wederoprigting van alle dinge”. Die ASV vertaal dit as: “until the restoration of all things” en die Darby-vertaling as: “the times of the restoring of all things”. Eers wanneer ons alle dinge prototipies met Jesus Christus versoen het (deur alle dinge met sy bloed te versoen), deur die bediening van versoening, sal Jesus kan terugkeer. Ons verduidelik dit later in groter detail. Sela.
Die tweede byvoordeel van die bloed van Jesus word uitgespel in 1 Joh 1:7: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
Ons verstaan dikwels die bloed bloot in terme van ons persoonlike verlossing, want die evangelie van die Koninkryk van God (Mat 24:14) vra allereers ‘n persoonlike aksie ten opsigte van ons “aanneem” (Joh 1:12) van die bloed van Jesus. Maar hierdie Skrif spel uit dat dit ook duidelik bearing het op ons korporatiewe saamloop. As ons in die lig saamloop, is dit die basis van ons gemeenskap met mekaar, en dán reinig sy bloed ons van alle sonde. Ons weet uit Hand 20:28 dat Paulus die ouderlinge en gemeente vermaan het dat elkeen op homself moet ag gee, maar ook “op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het”! Nie net word ons opgeroep om mekaar se sondes te vergewe nie (Kol 3:13), maar ons word ook geleer dat die liefde ‘n menigte sondes kan bedek (1 Pet 4:8). Joh 20:23 het egter ‘n geweldige belangrike implikasie ten opsigte van hierdie saak: “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”
Dis verskriklik belangrik om te besef dat jou aanspraak op die bloed van Jesus voorveronderstel dat jy alle mense sal vergewe wat teen jou gesondig het (Mat 6:12; 18:21-27). “Spreek vry, en julle sal vrygespreek word,” het Jesus dit eenvoudig gestel (Luk 6:37).
Die derde byvoordeel van die bloed van Jesus vind ons in Open 12:11 – “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam …” Die “hom” van wie gepraat word, is “die duiwel en Satan” (vers 9). Die kragtigste wapen wat teen hom gebruik kan word, is die bloed van Jesus. Dít is die troefkaart van alle geestelike oorlogvoering, helaas nie om in die dieptes van Satan (Open 2:24) te delf nie. In die bloed van Jesus is alles opgesluit om die duiwel te oorwin. Sela asseblief! (Later, as ons by die wierookaltaar uitkom, sal ons vollediger hieroor gesels.)
- Sela: Watter implikasies het hierdie derde byvoordeel van die bloed van Jesus vir jou?
- Lees: Lev 18; Hag 2; Jes 58
- Memoriseer: Jes 58:6-14
- Vir dieper delf: Lees Chuck D Pierce en Rebecca Wagner Systema se Protecting your home from spiritual darkness en vra die Heilige Gees leiding oor die demoniese mitologie wat met die loop van tyd ontwikkel het in geestelike kringe. Waarom gebruik ons nie net die kragtigste wapen wat Jesus ons voorsien het nie? Dis soveel eenvoudiger en treffender.