Dag 320

“sal die bloed van Christus … julle gewete reinig van dooie werke ” (Heb 9:14, OAV)

 

Ons het in die vorige twee mannas die klem laat val op drie dikwels oorgesiene byvoordele van die bloed van Jesus. Ons wil vandag ter afsluiting van hierdie subtema ‘n vierde byvoordeel uitlig. Hierdie baie belangrike aspek vind ons Heb 9:14 –  “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien”.

Daar is dikwels misverstand by gelowiges oor die rol van werke in hul lewe. Ter wille van helderheid is dit belangrik om werke uit twee hoeke te belig: werke voor bekering en werke daarna.

Voor jou redding en wedergebore is daar NIKS wat jy kan doen om redding te verkry nie. Alle goeie werk: kerk toe gaan, vir armes gee, minderbevoorregtes help, ‘n goeie lewe lei, andere hoër as jouself ag, jou liggaam kasty, in afsondering wees, jou te onthou van aardse plesiere, pyn en lyding deurgaan, wat ook al, alles wat ons moontlik  as ons eie geregtighede kan aanbied, noem God in Jes 64:6 “‘n besoedelde kleed” (in Engels: “filthy rags”). As direkte vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad, is hierdie tipies die goeie vrugte, wat ook (soos die slegte vrugte) die dood meebring. Ons kan nooit gered word deur ons werke nie (Gal 2:16; Efes 2:8-9; 2 Tim 1:9) – “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit 3:5).

Dus: Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet (Rom 3:28).

Nádat ons gered is en gewas is in die bloed van die Lam (Open 1:5), begin ‘n nuwe bedeling, waaroor Jakobus veral skryf. Hy stel dit duidelik in Jak 3:13 dat ons die werke van ons goeie lewenswandel moet toon. Vroeër in hoofstuk 2 het hy ‘n hele argument gevoer om te verduidelik wat hy met hierdie stelling bedoel:  “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.” (Jak 2:14-18). Ná bekering is werke die vrug van jou geloofswandel met God, en as dit dan nié daar is nie, kan jy nie aanspraak maak op die feit dat jy ‘n pad met God loop nie.

Die masskrif hierbo praat egter van dooie werke VOOR en dooie werke NA bekering, met ander woorde nádat die bloed van Jesus operative geraak het in jou lewe. Ons verstaan dit nou wat dit voor bekering beteken, maar wat is dooie werke na bekering?

 

  • Sela: Wat is dooie werke in die lewe van gelowiges?
  • Lees: Lev 19; Sag 1; Jes 59
  • Memoriseer: Jes 59:1-2
  • Vir dieper delf: Luister na die cd-lering van Jan Stander: Die geestelike dissipline van Johannes die Doper.