Dag 322

“die  doop … (is) ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete”

(1 Pet 3:21, OAV)

 

Net nog enkele fasette van die menslike gewete. 1 Pet 3:21 maak ‘n geweldig belangrike uitspraak as dit oor die doop sê: “ waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus”. Een van die ongenoemde aspekte van die doop van die gelowige het juis met die gewete te doen. Ongelukkig word hierdie versie dikwels verkeerd geïnterpreteer, en derhalwe val die belangrike implikasie rondom die doop dikwels tussen die argumente deur.

Laat ons dit net baie duidelik stel: Die doop as sodanig kan nie red nie – nie besprinkeling nie, ook nie die doop van ‘n bekeerde nie. Nét die aanneem van die bloed van Jesus kan redding bring. Dat wedergeboorte die doop insluit (Joh 3:5) is weliswaar so, maar daar is gelowiges wat nie gedoop is nie, maar wel gered is (Joh 1:12). Hulle bly egter slegs in die prototipiese eerste dimensie (=Buitehof) van die tabernakel – hulle het net by die kruis (=die koperaltaar) uitgekom en hul sondes is afgewas (by die koperwaskom). Hulle het nog nie deur die doping met water en doping met Gees gegaan (=die gordyn wat toegang tot die tweede dimensie, die Heilige) bied nie.

So wat sou 1 Pet 3:21 nou bedoel met: die doop “red”? Die woordjie “red” beteken hier nie verlossing nie, maar eerder “uitred, beskerm”. Strongs maak dit duidelik: “to save, that is, deliver or protect …  heal, preserve, save (self), do well, be (make) whole”. Thayer voeg by: “restore, rescue”.

Maar die doop word ook ‘n “bede” tot God “om ‘n goeie gewete”. Die ISV omskryf dit baie eenvoudig: met die doop “you’re asking God for a clear conscience”. Ook die GW-vertaling sê dit raak: “baptism is a request to God for a clear conscience”.

Weliswaar word die versoek dikwels ‘n “interrogation”, soos die ASV en RV-vertalings dit noem, want die koninkryk van duisternis werk veral op die vlak van die gewete om ons aan te kla. Satan word nie verniet nie “die teenstander” (1 Pet 5:8) genoem nie – hy sal elke (on)denkbare geleentheid opportunisties gebruik om ons vrymoedigheid met Jesus te perverteer en teen te staan. Maar in 1 Joh 3:20 (GW) word hierdie profound ding geleer: “If our conscience condemns us, we know that God is greater than our conscience and that he knows everything.” (Dis belangrik om daarop te let dat die gebruik van die ontwykende begrip “hart” in die Skrif eintlik nousluitend pas rondom die definisie van “gewete”.)

Met die doop word jy letterlik ‘n skoon lei (a clean slate) gegee, en jou gewete moet leer om nie meer die spreekbuis van Satan te word sodat jy heeltyd in ‘n beskuldigingsposisie verkeer nie. Die gewete moet van die besoedeling skoongemaak word en begin funksioneer soos God dit bedoel het, as ‘n lig in die dikwels donker kamer van die siel. As mens in Spr 20:27 lees: “Die gees van die mens is ‘n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste,” is dít wat jou ‘n lewende siel gemaak het (lees weer Manna 235) ten nouste met jou gewete gekoppel. Sela.

 

  • Sela: As dit nie met jou doop gebeur het nie, vra God om jou gewete te reinig.
  • Lees: Lev 21; Sag 3; Jes 61
  • Memoriseer: Jes 61:1-4
  • Vir dieper delf: Lees pp 189-201 in Henry Cloud se The secret things of God.