Dag 324

“die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.”

(Joh 5:19, OAV)

 

Die nuweverbondspad wat ons saam met Jesus en die Heilige Gees stap, behels nie ‘n lysie van opdragte nie. Ons nader God dikwels asof Hy óf ‘n werkgewer óf ‘n dienskneg is. As ons tyd met Hom spandeer, word dit gedryf  óf deur ‘n lysie van dinge wat ons vir Hom wil doen en waarvoor ons sy seëning vra, óf ‘n lysie van dinge wat ons vir Hom vra om vir ons te doen.

Jesus het ons geroep tot ‘n nuwe wandel met God, ‘n nuwe lewende weg (Heb 10:20). Hierdie nuwe manier waarop God en mens saamloop, word gerig deur intimiteit. Hierin het Jesus vir ons die Voorloper (Heb 6;20) en Voorbeeld (Rom 8:29b) geword van hoe ons met ons Pa moet saamloop. Uit Jesus se voorbeeld is alles wat God nie gesê het nie, dooie werke.

Vergun my ‘n bietjie apokriewe verbeelding om die punt tuis te bring. Lees weer bietjie die verhaal van die bad van Betésda: ‘En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het. Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het. En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in. Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.” (Joh 5:2-9).

Ek kan my indink – dié oggend toe Jesus (soos sy vader Dawid gedoen het) die môrestêr roep (Ps 119:26), en by sy Pa kuier, het Hy Hom gevra wat Hy die dag wat voorlê wil doen.

Wat gaan ons vandag doen, Pa?

                   Ek wil hê jy moet vandag iemand genees, Seun.

                   Wow, dis cool, Pa. Waar?

                   By die waters van Bethesda. Onthou jy die plek?

                   (Glimlag) Net dit wat Nehemia my vertel het – dis mos daar by die Skaappoort?

                   Ja, Seun.

                   Wat sien ek nou in my geestesoog, Pa? Dit lyk of daar baie siek mense daar rondlê? Kan ek nie sommer hulle almal genees nie, ag toe Pa.

                   Nee, Seun. Sien jy die een man wie se gesig Ek jou nou wys. Hy is al baie lank siek. He’s the one. (Glimlag)

Jesus het net gedoen wat sy Vader gesê het Hy moet doen. Hy het reguit na die Skaappoort toe gegaan, die bad van  Betésda opgespoor, die man tussen al die honderde siekes gesoek. Dit was maklik om vir hom te sê: Neem jou bed op en loop. Hy het immer gesien hoe sy Pa dit gedoen het.

 

  • Sela: Wat wou God vir Jesus leer met hierdie episode?
  • Lees: Lev 23; Sag 5; Jes 63
  • Memoriseer: Jes 63:5 (en neem die Skrif ernstig op).
  • Vir dieper delf: Lees hfst 2 van J Oswald Sanders se boek: On to maturity.