Dag 328

“Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.”

(Heb 13:12-13, OAV)

 

Lesers sal agterkom dat hierdie onderafdeling oor die bloed van Jesus meer uitvoerig is as enige ander afdeling van die manna wat al vroeër behandel is. Dit is so, in Col 1:20 (GNB) se woorde, omdat: “Through the Son, then, God decided to bring the whole universe back to himself. God made peace through his Son’s blood on the cross and so brought back to himself all things, both on earth and in heaven.” Die bloed van Jesus is met ander woorde die mees omvattende onderwerp waaroor ‘n mens sou kon skryf, want dit het soveel oneindige toepassingsmoontlikhede! En ironies genoeg is dit ‘n onderwerp wat dikwels in studies so met ‘n halwe omhaal van woorde terloops aangesny word asof dit net ‘n enkelvoudige gegewe van redding is.

Ons wil vandag bietjie in die Ou Testament gaan kyk na die hantering van bloed, en dit teleskopeer op die profetiese vervulling daarvan in die nuwe Verbond.

Melaatsheid as siekte is in die Skrif ‘n dieperliggende verwysing na die sonde wat die mens aankleef: “Die wilde vlees is onrein, dit is melaatsheid.” (Lev 13:15b). Die persoon wat vermoed het hy is melaats moes allereers na die priester toe gebring word (Lev 14:2); die priester moet buite die laer gaan. Mense met melaatsheid moes altyd buite die poorte wees, sodat hulle nie ander daarmee kon besmet nie (Lev 13:46; 2 Kon 7:3). Dan moes die melaatse (volgens Lev 14:5-8) twee lewendige rein voëls en sederhout en skarlakendraad en hisop bring. Die priester moet dan bevel gee dat hulle die een voël in ‘n erdepot oor vars water slag. Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die vars water geslag is. En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg. Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en ‘n bad neem; dan sal hy rein wees.

Hierdie ritueel het duidelike heenwysing na ons reiniging deur die Hoëpriester, Jesus Christus (Heb 2:17 en 3:1). Sederhout verwys na die kruis (Jer 22:7) en skarlakendraad na die (geestelike) “naelstring” van Jesus Christus, dit wat Ragab profeties oor die muur van Jerigo gegooi het om haar verlossing te verseker (Jos 2:18; 6:25; Mat 1:5; Heb 11:31). [Skarlaken is vervaardig uit die lewensbloed en –sap van ‘n klein wurmpie wat uit hom gepers is. In Ps 22:6 sê Jesus profeties deur Dawid van Homself: “Maar ek is ‘n wurm en geen man nie.”] Hissop hou die belofte in van ontsondiging (Ps 51:9). Die twee voëls kan dui op die offergawe wat arm mense moes maak – een as sondeoffer en die ander as brandoffer (Lev 5:7; Luk 2:24). Die sondeoffer dien as versoening (“atonement”) vir die sonde en die dit lei tot ‘n brandoffer wat as ‘n lofoffer aangebied word (Heb 13:15). In hierdie geval word daar anders gehandel as met die algemene offers – die een voël moet oor vars water geslag word in ‘n erdepot = ons (2 Kor 4:7). Dít dui op die sterwe in die self, jou lewe as offer (Rom 12:1). Die was dui op die wassing met die water van die woord (Heb 10:22; Efes 5:26). Na dié offer bied Jesus jou die vryheid (wat die ander voël simboliseer – Gal 5:1 & 13; Jak 1:25). Die was daarná dui op die doop van die gelowige en die hare afskeer op die nuwe verbond wat met jou gesluit is (Hand 18:18). Dit alles kan net die bloed van Jesus jou bied. Laat ons dan uitgaan na Hom toe …

 

  • Sela: Verduidelik die OT tipologie in NT terme aan iemand.
  • Lees: Lev 27; Sag 9; Eseg 1
  • Memoriseer: Sag 9:11 (kyk die sinchronisasie!)
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Afbeelinge teen my muur en ‘n takkie hissop