“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.”
(Efes 2:13, OAV)
Ek kon nie my ore glo toe ‘n koor van ‘n groot kerk waar ek anderdag bedien het skielik wegtrek met Bette Midler se trefferlied “From a distance” nie. Jy ken seker die refrein: “God is watching us, God is watching us, God is watching us … from a distance.”
My prebekerings-gevoel oor God het onwillekeurig uit die diepste duisternis van vergetelheid opgedoem – die vrees van ‘n sondaar wat heeltyd gekonfronteer is met die idee dat God as ‘n baie kwaai ou man daar bo sit en in ‘n groot, dik joernaal boek hou van al die kwaad wat ek doen. (Dit was aangevuur deur die outydse ornate woordskildery wat uit die Statebybel jou gewaarsku het: De oogen des Heeren zagen alle plaatsen.– die oë van die Here sien op alle plekke. Hierdie prent het bokant my ouers se bed gehang, en ek het altyd by myself gedink dis die allerlaaste plek waar ék daardie skildery sal hang J).
Ons weet dat die mens se sonde hom van God verwyder het, en in hom‘n orphan heart (Eseg 16:4-5) meegebring het en vir hom was dit asof God “ver” geword het (Jes 59:2). Dikwels in die Skrif is dit die uitroep van gelowiges tot die God wat ver is dat Hy tog moet naderkom. Dawid roep uit in Ps 38:21 en Ps 71:12: “My God, wees nie ver van my af nie!” Jona (in 1:3), weer, wou ten alles koste so ver as moontlik van God as wegvlug. Net voor Hy sterf het Jesus self ervaar God is ewe skielik verskriklik ver – “My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?” (in die profetiese woorde van Ps 22:1). Die tollenaar in Luk 18:13 word ‘n ikoon van die mens wat ver van God af is: “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!”
Dis belangrik om te onthou dat al bogenoemde voorbeelde uit die ou verbond is. Maar Efes 2:13 verduidelik vir ons dat deur die bloed van Jesus vir ons wat ver was van God dit moontlik geword het om naby te kom. Dis al in die ou verbond geprofeteer, want nabyheid is God se hart! In Deut 30:12-13 sê God: “Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?” In Jer 23:23 word dit só eksplisiet uitgespel: “ Is Ek ‘n God van naby, spreek die HERE, en nie ‘n God van ver nie?”
Die bedeling van die bloed en die Gees (1 Joh 5:6 & 8) het ‘n belofte ingehou: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Hand 2:39).
Prys God dat 1 Pet 3:18 en Ps 73:28 vir jou waar geword het: “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees …” Dit is alleenlik moontlik deur die bloed van Jesus.
En Bette Midler jy is verkeerd – God is not watching us from a distance …
- Sela: Doen wat die laaste paragraaf voorstel.
- Lees: Num 1; Sag 10; Eseg 2
- Memoriseer: Eseg 2:8
- Vir dieper delf: Lees hfst 22 in John Piper se boek: Fifty reasons why Jesus came to die.