“En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.” (1 Kor 10:10, OAV)
Dis onmoontlik om die geestelike reis saam met God aan te pak sonder die standhoudende lewende water van die Gees van God. In Eks 17 lees ons hoe dors die volk was en toe Moses die rots in die woestyn slaan, het daar water uit die rots gekom en die volk kon daarvan drink (vers 6). In Ps 78:15-16 onthou die psalmdigter dit só: “Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.” Paulus verduidelik dit in nuweverbond-terme só in 1 Kor 10:4: “en almal (het) dieselfde geestelike drank gedrink …, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots …, en die rots was Christus”. Dieselfde water uit dieselfde rots in die woestyn, dit is die lewende water waarvan ek en jy vandag nog drink. Die Rots is eenmaal geslaan, verbrysel (Jes 53:10), sodat die Lewe daaruit kan vloei. Daardie lewe is geleë in sy bloed wat gevloei het (Lev 17:11), en dit het dan ook dié teken van die nuwe verbond geword (Mat 26:28).
Die Israeliete moes die geestelike beginsel van die lewende water verstaan: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei … alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” (Joh 16:13). Ten spyte van die menigvuldige wondere op hul geloofspad het hul steeds in moeilike fisiese omstandighede gemurmureer en God gewantrou. God gee toe aan Moses dié opdrag: “Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee.“ (Num 20:8). Die opdrag is duidelik: Spreek die Rots aan – Hy is rééds geslaan. Maar Moses “tel … sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom.” (vers 11).
Hiervoor het Moses nooit die beloofde land ingegaan nie. Eenmaal is die Rots geslaan vir my en jou, maar daarna sal ek en jy nie die Rots weer slaan met ons wederstrewigheid, ongeloof, manipulasie, murmurering, of wat ook al nie. Jy sal praat met die Rots. Té veel gelowiges het opnuut weer die Seun van God só gekruisig en Hom tot skande gemaak, en kon hul nie weer tot bekering vernuwe word nie (Heb 4:4-6).
- Sela: Waarom sou dié lering juis op Dag 33 val? Maak jou saak met God hieroor uit.
- Lees: Gen 33; Ps 33; Mat 4 (veral :1-11 is vandag belangrik).
- Memoriseer: Gen 33:20: “Die God van Israel is God.”
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se lering: Ons manier van dink verhoed die vloei vd Gees.