“because of the blood of Jesus we can now confidently go into the holy place.” (Heb 10:19, GW)
Ons het al met herhaling in hierdie studie die prototipiese waarde van die ou-verbondse tempel verduidelik. Dit is egter van baie groot belang dat ons moet onthou dat alhoewel die kruis van Jesus in die voorhof is (verteenwoordig deur die simbool van die koperbrandaltaar – prentjie hierbo), is die bloed van Jesus ook in die heilige én die allerheiligste die ‘toegangsteken’.
As jy in die eerste dimensie, die voorhof van die geloof, uitgekom het, het jy die bloed van Jesus aangegryp as die middel wat jou verlossing bewerkstellig het. Jy moet geloof hê dat sy bloed kan red, “ (you must have) faith in his blood” (Rom 3:25, DRB), anders kan jy nie gered word nie. Nou dat ons geregverdig is in sy bloed, word ons ook deur Hom gered van die toorn van God (Rom 5:9). In die eerste dimensie is jy dan bekeer en gered.
Maar om van die eerste dimensie na die tweede dimensie te beweeg, moet ons deur die gordyn daartussen beweeg. Hierdie gordyn simboliseer prototipies ‘n tweeledige proses, wat dope (Heb 6:2 – sien die meervoud) genoem word: die doop met water en die doop met die Heilige Gees. Dis duidelik dat die dope nie voor bekering kan plaasvind nie. Die doop met water word ten nouste met die bloed van Jesus gebring: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood (Rom 6:3 & 4a).
In Mat 3:11 profeteer Johannes die Doper die volgende: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”
Ook die tweede faset van die gordyn, die doping met vuur (Mal 3:2), is ten nouste met die bloed van Jesus geassosieer. Ons weet dat die hoëpriester, elke jaar wanneer hy op die groot versoendag die allerheiligste binnegegaan het, onder andere ‘n houer met bloed saamgevat het om op die versoendeksel te sprinkel (Lev 16:15) om daardeur versoening te bewerkstellig tussen God en mens (Rom 3:25).
Ons weet dat die voorhangsel ook die vlees van Jesus verteenwoordig het, en dat Hy daardeur moes breek (soos die voorhangsel geskeur het – Luk 23:45) om ons voor te gaan “op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees” (Heb 10:20). Soos die masteks hierbo dit uitspel – dit is die bloed van Jesus wat op ons drup as ons deur sy geskeurde liggaam inbeweeg in die allerheiligste, en daardeur verkry ons vrymoedigheid om enigsins in hierdie dimensie te kan inbeweeg. Hierdie dimensie, die dimensie waar die Bruid van Jesus in gedoop word, hou in dat ons moet sterf in onsself. Om te sterf in die self is veel meer as ‘n intellektuele konsep. Lees dié gedeelte uit Rom 6:5-9 biddend: “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe …”
- Sela: Lees Rom 6:5-9 biddend.
- Lees: Num 3; Sag 12; Eseg 4
- Memoriseer: Sag 12:10
- Vir dieper delf: Lees Watchman Nee se Back to the cross.