Dag 332

“En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”

(Joh 12:32, OAV)

 

Jesus word op verskeie name in die Bybel genoem. Iemand onbekend het eendag gaan tel en uitgevind daar is 365 verskillende name, een vir elke dag van die jaar. Maar een van die name is uitsonderlik interessant, want dit is die eerste naam waarop Jesus genoem word as Hy as deur Johannes die Doper as die Seun van God geïdentifiseer word; ook is dit is die naam wat die frekwentste in die boek Openbaring gebruik word as daar na die Seun verwys word: die Lam van God. In die afsluitingmannas oor die bloed van Jesus is dit belangrik om daarop te wys dat die ganse identiteit van Jesus Christus, die Seun van die lewende God, gegrondves is in die naam: die Lam van God.

Maar dis ook meer as dit – soos die ou Amerikaanse volkspsalm dit in treffende eenvoud stel: “the Lamb who is the great I AM”. Dit het sela nodig om te verstaan dat die God van die heelal Homself kom aanbied het as ‘n slagofferdier. Open 5:12 identifiseer Hom as die “Lam wat geslag is”, the lamb who was slaughtered (ISV).

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche is gewalg deur die idee van God as ‘n offerlam. In sy essay “God on the cross” (in die versamelbundel The Anti-Christ) verwerp hy met minagting, in absolute weersin, die gedagte dat ‘n God só swak kan wees. Hy sê dan: “What is bad? Everything that is born of weakness … The weak and the failures shall perish.” Sy geen genade-ingesteldheid ten opsigte van die weerloses is deur Hitler geëggo.

‘n Paar maande nadat Nietzsche sy boek geskryf het, het hy die dorpie Turin besoek (waar die kleed gehou word waarin Jesus waarskynlik in toegedraai is voor Hy in die graf gelê is). Juis hier het ‘n gebeurtenis plaasvind wat ‘n reeds geestelik-nerfdun Nietzsche oor die grense van sanity gestoot het. ‘n Man met ‘n perdekar verloor alle geduld met sy perd wat nie wil loop nie, en hy hou aan en aan en aan om die perd uit brute woede met ‘n sweep te slaan. Spreekwoordelik he was severely flogging an almost dead horse.

Nietzsche kon die lyding nie verder aanskou nie. Hy het homself op die bloeiende perd gewerp, met sy hele liggaam probeer keer dat die weerlose, swak dier verdere lyding sou verduur. Hierdie enkele daad het sy het ganse oortuiging in The Anti-Christ in ‘n enkele aksie tot niet gemaak. Hy het hierna nie net sy filosofie verloor nie, maar ook sy verstand, en is opgeneem in ‘n plek vir geestesversteurdheid. Hier het hy sy laaste onsamehangende brief geskryf, en dit onderteken as “Die Gekruisigde”, wat dui op sy paranoïese gepreokkupeerdheid met die kruisdood van Jesus. Na die insident het hy in die bodemlose put van wanhoop gesink waaroor hy sy lewe lank so uitvoerig geteoretiseer het, die nothingness waarbinne hy geproklameer het God is dood. Hý het tien jaar later verwese in die gestig gesterf.

Die eietydse populêre filosoof Jack Miles sê dat die perd in die Europa van Nietzsche die simboliese ekwivalent was van die lam in antieke Israel – “Hyperdomesticated, like the human animal itself, and therefore poignantly vulnerable to abuse, the lamb invited metaphorical use in myth and ritual.” In hierdie lig het die “Lam wat geslag is” en op die kruis verhef is, bepaald presies gedoen wat Hy in Joh 12:32 belowe het. En – letterlik ironies – kon selfs Nietzsche nie anders as om deur die onweerstaanbare genade van ‘n weerlose God oorrompel te word nie.

 

  • Sela: Wat lê daarin dat die magtige God van die heelal Homself as ‘n weerlose lam kom aanbied het?
  • Lees: Num 4; Sag 13; Eseg 5
  • Memoriseer: Sag 13:6 (en leer dit met die vrees van die Here)
  • Vir dieper delf: Lees Jack Miles se Christ: a crisis in the life of God.