“God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien” (Gen 22:8, OAV)
Die ganse geskiedenis van die Bybel en die mensdom is deurspek met die aanwesigheid van die lam. Vroeg reeds in Génesis word die offergegewe sentraal gestel toe Abraham sy seun Isak as ‘n offer moes gee, ‘n uitspeel van ‘n hoogspanningsdrama toe die seun vra waar die lam is, en die pa antwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.” (Gen 22:8). Let op na die vreemde stelwyse – nie: God sal die lam voorsien nie, nee; God sal vir Homself die lam voorsien. Dit word in Jesus daadwerklik vervul.
In Eksodus is die bloed van die onskuldige lam dít wat die dood laat pass-over en die eersgebore seuns van Israel red.
In Levitikus word die lam God se gekose sondeoffer, en brandoffer.
In Numeri word die lam vereis vir die vuuroffer, en die spysoffer. En die lam word spesifiek as offer gevra as iemand ‘n Nasarieërgelofte aflê
Dwarsdeur die res van die ou verbond is die lam en sy bloed sentraal in die verhouding tussen God en sy volk.
Daar is ‘n frase wat male sonder tal ook in die Ou Testament opduik, wat met die lam as sentrale simbool saamhang, die frase: skape sonder herder, in een of ander stelwyse. Gedagtig daaraan dat die naam Jesus die Griekse vertaling van die Hebreeuse naam Josua is, is dit van groot betekenis dat wanneer Josua aangestel word in Num 27: 16-17, die volgende gegesê: “Laat die HERE, die God van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die HERE nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.” Josua, wat beteken “Jehovah is salvation”, word direk in verband gebring met herderskap oor skape/lammers. Op verskeie plekke word die beeld gebruik, ook in terme van die militêre vaardighede wat die skaapwagter moes vertoon om sy skape te beskerm (sien bv 2 Kron 18:16; Jer 23:2-3; Eseg 34:30-31).
In Jes 40:9-11 word ‘n profetiese aankondiging gedoen oor ‘n Verlosser wat Jehova gaan stuur (Verlosser + Jehova = Josua/Jesus), en van Hom word geprofeteer: “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” Geen wonder Dawid – ‘n skaapwagter – kon in die mooie Ps 23 verduidelik hoekom Jesus die Herder is nie. Elders, in Ps 80:1, spel Asaf dit direk uit: Jesus is die “Herder van Israel … U wat Josef soos skape lei”.
Maar ‘n herder is tog nie ‘n skaap nie? Jes 53 – weer eens ‘n profetiese passasie oor die komende Messias – maak hier dié belangrike gelykstelling: híérdie Herder het sy skape so lief dat Hy sy lewe vir hulle sal aflê. In sy totale identifikasie met sy skape (“Hy het óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra … Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel”) hét Hy ‘n lam geword (“‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders”)!
Inderdaad: God sal vir Homself die lam vir ‘n offer voorsien.
- Sela: Lees Joh 10 biddend.
- Lees: Num 5; Sag 14; Eseg 6
- Memoriseer: Sag 14:9
- Vir dieper delf: Lees John V Taylor se boek: The Go-between God.