Dag 334

“‘n lam wat na die slagplek gelei word … ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders” (Jes 53:7, OAV)

 

In die vorige manna het ons uitgewys dat dwarsdeur die Ou Testament God Homself as ‘n Herder voorhou, en sy kinders as skape na wie Hy omsien, voed en beskerm. Ons het gekyk na die profetiese belofte van die Skrif hierbo, wat voorspel dat Hy in so ‘n mate identifiseer met sy skape dat Hy ‘n Lam sal word vir hulle.

Die vier evangelies wemel van verwysings na skape en herders. So begin die profetiese bediening van Johannes die Doper dan spesifiek met die woorde: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29). Weliswaar die bekendste passasie oor herderskap vind ons in Joh 10 waar Jesus die hele konteks van skaap-wees simbolies in detail verduidelik en dan eksplisiet oor Homself sê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (vers 14).

Belangrik ook is net voor die keer toe Jesus die eerste keer die broodjies en vissies  vermeerder het. As sy dissipels die mense honger wil huis toe, reageer Jesus anders as wat hul verwag het: “En toe Jesus uitklim, sien Hy ‘n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was …” (Mark 6:34). Sien duidelik dat Jesus die hart het van – soos 1 Pet 5:4 Hom noem – die Opperherder. Deur hierdie wonderwerk het minstens 15000 mense ervaar dat Hy waaragtig die Herder is wat sou kom na sy skape in die verstrooiing toe – Hy het gevoel wat hulle gevoel het. Hy het waaragtig skaap geword.

Later is die baie bekende passasie in Joh 21:15-17 waar Jesus met Simon Petrus praat en hom drie keer challenge met die vraag: “Simon, seun van Jona, het jy my lief?” Met elke reaksie van Petrus het Jesus onderskeidelik gesê: “Laat my lammers wei; Pas my skape op; Laat my skape wei.” Let op: als binne die sentrale metafoor van die herder en die skape.

Maar dis eintlik by Hand 8 vanaf vers 27 waar ons by wil uitkom. Hier word die verhaal vertel van die ontmande hofdienaar uit Ethiópië na wie Filippus gestuur is.En waarmee worstel hy? Die passasie uit Jesaja hierbo! En Filippus verduidelik aan hom presies wie Jesus is – die Lam van God. Is die toevallig dat die heel eerste Christelike bekeerling ‘n swart ontmande persoon is buite Palestina, wat toevallig hierdie gedeelte lees en hierdie vraag vra: Van wie word dit alles gesê? Want in Hand 8:33 word gepraat van vernedering, en nageslag. Wat het deur die hofdienaar se kop gemaal: die vernedering van sy kastrasie, dat hy stil was soos ‘n skaap voor sy skeerders terwyl hy na die slagplek gelei word, die feit dat hy nooit ‘n nageslag sal hê nie? Hy identifiseer totaal met hierdie persoon  van wie Jesaja profeteer – hy verstaan presies wat beteken dit om lam te wees. Daarom huiwer hy nie ‘n oomblik om hom in alle opsigte met Jesus te identifiseer nie – hy vra om onmiddellik ook soos die Lam geslag te word in die doop; hy wil in Sy doop gedoop word. Hy wil geslag word. Hy wil sterf.  Hy het verstaan dit wat Paulus eers later onder woorde sou bring in Rom 6:4 – “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

“If he shall lay down his life for sin, he shall see a longlived seed …” (Isa 53:10, DRB). Die eunug kon met blydskap verder ry – ineens het hy ‘n nageslag gehad.

 

  • Sela: Bid oor Joh 12:42 en jou lewe. Het jou saad ontkiem? Waar is jou nageslag?
  • Lees: Num 6;  Rut 1; Eseg 7
  • Memoriseer: Num 6:22-26
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Measuring the pattern.