
“Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
(Joh 1:29, OAV)
Ons het met die verloop van eeue so gewoond geraak aan die beeld van Jesus as Gekruisigde dat dit nie meer enigsins ‘n skokwaarde het nie. In my kindertyd was daar ‘n dogtertjie wat op ‘n reëndag by my kom speel het en vir wie ek toe die Kinderbybel deurgeblaai het, ‘n boek wat sy nie geken het nie. Toe ons kom by die uitbeelding van Jesus aan die kruis, die verskriklik baie bloed en die ledemate wat inmekaar getrek is van pyn as gevolg van die gruwelike spykers wat daardeur geslaan is, die skerp haak-en-steekdorings wat in die dun vleisies van die kopvel ingelock het, het sy onbeheersd begin huil, vir meer as ‘n uur net gesit en rou snik soos iemand wat nie van ‘n primal scene kán wegkyk nie, en aanhoudend net gesê: Hulle het Hom geslag. As plaaskinders was dit ‘n beeld wat ek – soos sy – baie goed geken het: die dier wat in die hoogte opgetel is dat die bloed kan uitloop, ‘n rillende karkas wat lyk of dit aan die vleishaak spartel. En alhoewel dit altyd erg was, was hier ‘n grondige verskil – hier was dit ‘n mens wat geslag is.
Die ironie van die tyd waarin Johannes die Doper na vore getree het, was dat die Jode hul Messias verwag het, maar dan in die gestalte van ‘n leeu. Dít was immers die profetiese beeld wat Jer 49:19 belowe het, ‘n leeu wat Edom sal bestorm en verwoed aanval: “I will attack you like a lion from the forest, attacking sheep in a meadow along the Jordan.” Maar hier kom Johannes die Doper aan en verklaar die Messias tot … Lam! Die Lam van God? Die lam is die beeld van die weerloosste dier moontlik, het hulle geweet; weerloos soos ‘n lam in die oop veld is een van hul idiome (Hos 4:16).
Die lam was ‘n offerdier, het die Jode ook geweet. Maar dit kan tog nie van die Messias gesê word nie! Die frase wat vir ons met die eeue so bekend op die oor geval het, Lam van God, was vir die Jode amper blasfemies, iets wat jy definitief nie soos Johannes die Doper uitgeroep het oor ‘n persoon wat jy wou aankondig as die Messias nie. In hulle Grieks-Hellinistiese denkraamwerk sou die toehoorders bes moontlik gedink het hier is ‘n Griekse tragedie wat in die realiteit afgespeel gaan word: vol van die onvermydelike noodlot, gruwelike lyding, ‘n tragiese held wat gepredestineer is om tot ‘n val kom, wie se tragiese lot die skare tot ‘n katarsis bring, wat met skrik en mededoë die gehoor laat wegstap uit die teater, sonder sin, sonder hoop – want dis wat die menslike toestand meebring.
Dit was nie wat hulle van die Messias verwag het nie – ‘n Lam wat die sonde van die wêreld wegneem? Hulle het die offerlam geken, wat vir hul onreinheid moes boet – bloedvloeiing en melaatsheid en inkontinensie en saadvloeiing – wat geoffer moes word om hul onreinheid te verreken. Die gebruik van die Lam, in Jack Miles se woorde, “represented ancient Israel’s acknowledgement that the Lord has not yet reversed – if He ever would – the curse that He had spoken against all his human creatures shortly after making them … The human vulnerability to mortal illness and the human helpnessness before an uncontrollable impulse are ritually acknowledged by first, slaying a lamb.”
En ja, híér nou is ‘n ander Offerlam (1 Kor 5:7). Wie sou nou kon dink dat ‘n Messias kan kies om só weerloos soos ‘n lam te wees?
- Sela: Hoekom is die verhaal van Jesus nié ‘n tragedie nie?
- Lees: Num 7; Rut 2; Eseg 8
- Memoriseer: Num 7:89
- Vir dieper delf: Lees Jack Miles se Christ: a crisis in the life of God.