“Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.”
(Heb 9:23, OAV)
Daar is verskeie voorbeelde in die Ou Verbond van die rol wat die bloed van Jesus sou speel in die Nuwe Verbond. In die Skrif hierbo word gestel dat daar “afbeeldinge” is wat God in die geestelike realm (=hemel) deur bepaalde offers en rituele (wat op die aarde uitgevoer word) moes reinig. Die woordjie “afbeelding” in Grieks dui volgens Thayer op die volgende: “ a sign suggestive of anything, delineation of a thing, representation, figure, copy … an example: for imitation … of the thing to be imitated … for a warning, of a thing to be shunned”.
Let op: as die bloedoffer en rituele aksie fisies plaasvind, reinig dit iets in die gees.
‘n Goeie voorbeeld van so ‘n fisiese aksie was die Ou-Testamentiese ritueel van die twee offerbokke waarvan ons in Lev 16:8-22 lees. Enkele verse hieruit om die konteks te skep: “En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom as sondoffer berei; maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur … Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; … en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.”
Ons idiomatiese uitdrukking: om ‘n sondebok te wees kom uit hierdie geskiedenis. Dit beteken om die skuld of blaam namens ander te dra, bv ‘n klomp kinders wat stout is, maar net een wat namens almal gestraf word. Met die loop van tyd het die spreekwoord egter iets van sy oorspronklike betekenis prysgegee, want die een wat die skuld dra, moet niks met die oortreding waarvoor hy kollektief gestraf word, te doen hê nie. (Daarom is die kruisiging van Jesus nie tragies nie. Tragiek veronderstel dat die persoon wat gestraf word tot ‘n val kom deur ‘n karakterfout/”flaw” in hom, of dan omstandighede wat hom noodwendige keuses moet laat maak wat uiteindelik van hom ‘n slagoffer maak – wat geensins in Jesus se geval die waarheid is nie – Heb 4:15; 1 Pet 2:22; 2 Kor 5:21.)
Die eienaam Asásel beteken in die oorspronklike taal (soos die Hollandse Statevertaling dit reg vertaal het): “die weggaande bok”. ‘n Verkeerde verstaan van Asásel as eienaam het ‘n demoniese agenda, wat van groot belang is en wat ons in die volgende manna net moet uitklaar.
- Sela: Probeer geestelik verstaan wat hierdie ritueel in die Nuwe Verbond beteken.
- Lees: Num 8; Rut 3; Eseg 9
- Memoriseer: Rut 3:9 (bid dit ook)
- Vir dieper delf: Lees die lemma van Azazel in R. Disker se The Torah, A Modern Commentary.