“See what is recorded in the book of the Lord: all these will be there, not one without the other: the mouth of the Lord has given the order, and his spirit has made them come together.” (Isa 34:16, BBE)
Ons het die vorige manna afgesluit met ‘n verwysing na die apokriewe boeke van die Bybel. Dit sou miskien goed wees om ter wille van volledigheid dalk net ‘n manna of twee af te staan aan die status en gebruik van die apokriewe boeke, veral omdat dit in ons tyd geweldig baie klem verkry. Die publikasie van Dan Brown se populêre roman The Da Vinci Code het ongekende belangstelling en verwarring rondom die apokriewe boeke veroorsaak. In die openbare pers het die beweging van Die Nuwe Hervorming baie klem gelê op byvoorbeeld die apokriewe boeke Die evangelie van Judas, Die evangelie van Tomas en Die evangelie van Maria Magdalena. Uit laasgenoemde drie tekste word ‘n totaal ander geskiedenis vertel as wat ons tradisioneel konsensus oor gehad het volgens die kanonieke boeke van die Bybel.
Die woordjie “kanoniek” beteken in die oorspronklike taal ‘n “maatstaf” of “skietlood” – dit is ‘n meetinstrument en impliseer dat dit wat gemeet word deur bepaalde “wette” of ooreengekome wetmatighede getoets word. In die kerklike dampkring word die woord gebruik om te dui op daardie tekste wat beoordeel is deur gesaghebbendes wat bevind het dat dit deur God geïnspireer is. Daar is baie wyd konsensus deur die eeue dat die 66 boeke wat ons tans as die Bybel gekanoniseer het, die volledige versameling is. Die Ou-Testamentiese kanon is bes moontlik saamgestel deur Esra, die skriba, heel ironies – volgens die … apokriewe 1 Mak 7:12 en 2 Mak 2:13! Die Ou-Testamentiese kanon word egter ook volledig deur die Nuwe-Testamentiese kanon bevestig deur ekstensiewe direkte kruisverwysing (sien bv www.kalvesmaki.com/LXX/NTChart.htm vir so ‘n vergelyking). Dit sluit byvoorbeeld glad nie tipologiese vergelykings tussen die twee testamente in nie. Kortom: die kanon is, in woordeboekterme: “the books of the Bible officially accepted by a church or religious body as divinely inspired”.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel die onderskeid tussen kanonieke en apokriewe boeke soos volg: “Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke … Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” Martin Luther het in sy inleiding tot sy vertaling hieroor gesê: “Apokriewe: hierdie boeke word nie gelyk geag met die Heilige Skrif nie, maar is nogtans nuttig en goed om te lees.”
Die woord “apokrief” kom uit die Griekse woord “apokruptos”, wat verborge beteken. In die Protestantse wêreld word die term pseudepigrafiese geskrifte eerder as apokriewe gebruik, wat beteken dat dit met die loop van jare as leuengeskrifte geklassifiseer is.
Miskien moet ons apokrief só verstaan – die boekrol wat gebruik is om die Heilige Skrif op neer te skryf, was gemaak van die binnekant van die gedroogde en gebreide vel van geslagte lam. As dit opgerol is, was dit volledig die toegevoude Lam. Dit was maklik om met ‘n kennersoog die ware wol van die Lam en die wolhaarstories wat desperaat daaraan klou, te kan onderskei. Want Jes 34:16 hierbo is waar.
- Sela: Is daar ‘n agenda met die vooropstelling van apokriewe boeke in ons tyd? Lees 2 Thes 2:3.
- Lees: Num 10; Dan 1; Eseg 11
- Memoriseer: Eseg 11:19-20
- Vir dieper delf: In riseisrael.com/apocrypha.htm kan jy die apokriewe verhale gaan lees.