“Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het. So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die
woorde wat Ek met jou gespreek het …”
(Jer 30:1-2, OAV)
Dis nogal ‘n waarmerk van God se omgaan met ons dat Hy dikwels kies dat die brose en gevalle mens iets van Hom moet weergee. Job kon die mens se totale onvermoë so ongelooflik raak verwoord: “Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot.” (Job 4:18-19). Tog kies Hy hierdie glansende motstof as sy pen waarmee Hy sy liefdesbrief aan die mensdom skryf! Sou ons iets anders kon verwag van ‘n God wat Homself as ‘n Minnaar wil voorstel?
In “mensetaal” (1 Kor 13:1) het God aan die skribas “die woorde van God toevertrou” (Rom 3:2). Petrus noem dit dat hulle “die lewende woorde ontvang (het) om aan ons te gee” (Hand 7:38). God maak sy beloftes deur die profete wat Hy gedikteer het om die Heilige Skrifte te konsipieer (Rom 1:2); daarom stel 1 Pet 1:21 dit so sterk: “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”. Nét God kon in ses-en-sestig boeke deur ‘n groot verskillende hoeveelheid skrywers, in drie verskillende tale, onder baie verskillende omstandighede so ‘n teks lewer soos wat die Bybel homself aanbied as die geïnspireerde Woord van God. Fausset in sy Fausset’s Bible Dictionary omskryf die merkwaardigheid van die korporatiewe teks nog verder: “writers of almost every social rank, statesmen and peasants, kings, herdsmen, fishermen, priests, tax-gatherers, tentmakers; educated and uneducated, Jews and Gentiles; most of them unknown to each other, and writing at various periods during the space of about 1600 years: and yet, after all, it is only one book dealing with only one subject in its numberless aspects and relations, the subject of man’s redemption”.
Inderdaad is dit soos Ps 68:11 (KJV) dit stel: “The Lord gave the word: great was the company of those that published it.”
Daar is verskeie redes waarom die apokriewe nie aanvaar kan word op bovermelde gronde nie. Die belangrikste hiervan is dat dit bepaalde dogma vervat wat nie strook met die res van die kanon nie, byvoorbeeld die vagevuur waar mense deur geldoffers losgekoop kan word van sonde (2 Mak 12:43-45), redding deur werke (Ecclesiasticus 3:30 en Tobit 12:8-9 & 17), aanwysings vir heksery, toordery en beswerings (Tobit 6:5-8), Maria wat sondeloos gebore was (Wysheid 8:19-20). Hierdie leerstellige probleme is teen die grein van die evangelie van Jesus Christus, en kan daarom nie eens gedeeltelik geakkommodeer word nie.
Die rede waarom die apokriewe boeke soveel aandag geniet, is raak gestel deur prof Bouke Spoelstra, die Gereformeerde teoloog: “Kerkgesag het Skrifgesag vervang.” Maar dis meer as dit – met die nuutste aanslag van die apokriewe boeke word gepoog om die hart van die evangelie (Jesus se onbevlekte ontvangenis, sy wonderwerke, sy kruisdood en sy opstanding) nietig te maak. Daarsonder sal die Bybel die hart van God verloor – Jesus, son of God, son of man, die Lam in wie die totaliteit van God ingebind en getranskribeer is binne-in sy vel.
- Sela: Ondersoek die stelling van prof Spoelstra hierbo.
- Lees: Num 11; Dan 2; Eseg 12
- Memoriseer: Dan 2:21-22
- Vir dieper delf: Lees hfst 11 van Venter en Gouws se boek: Die verbond en die vervalsing.