Dag 340

“Watter voordeel is daar in my bloed …”

(Ps 30:9, OAV)

 

As deel van hierdie omvattende tema oor die bloed van Jesus gaan ons ‘n paar temas aansny wat verband hou met die feit dat die bloed van Jesus versoening bewerk.

In Kol 1:20 word die volgende uitgespel: “en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis … die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele”. Die plan waarmee die Satan die mens van sy skeppingsdoel beroof het, het wyer implikasies gehad. As gevolg van die sondeval is die ganse geskape wêreld vyandig teenoor God, sê Kol 1:21 – “alienated” (ASV), “cut off and at war with God” (BBE), “hostile” (ESV). Die bloed van Jesus het vrede gebring en versoening moontlik gemaak. Die Vredevors (Jes 9:6) was die vors waaroor Esegiël profeteer het waarop die “verpligting rus” om al die verskillende offers voor te berei “om versoening te doen” (45:17). Binne God se verlossingsplan was Jesus se bloed die middel waardeur God se profetiese agenda van versoening (soos stapsgewys uitgespel in Dan 9:24) vervul kon word: “om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring”. Sodoende het Jesus “die wêreld met Homself versoen” (2 Kor 5:19) en het ons dus “vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Rom 5:1). Dáárom het Hy aan ons “die bediening van die versoening gegee” (2 Kor 5:18). Die Bruid van Jesus se taak is om alle dinge deur sy bloed met Hom te versoen. Ons doen dit deur gebed, lofprysing, geestelike oorlogvoering, intersessie, danksegging, met ons lewens en liggame – dit alles is offers in die Nuwe Verbond.

In Efes 2:13-16 word hierdie hele saak baie mooi saamgevat, maar met ‘n bykomde faset: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.”

Buite die hoofstukkonteks is dit nie baie duidelik wie die twee is wat Hy “albei een gemaak het”, “die twee (wat) in Homself tot een nuwe mens” geskep kon word. Uit vers 11 en 12 is dit duidelik dat God die heidene (=Gentiles) en die huis van Israel tot een gemaak het. Hierdie ontsettende waarheid het geweldige implikasies, want dit is die prototipe van al die versoenings wat deur die bloed van Jesus plaasgevind het, soos Paulus dit uitspel in Gal 3:28 – “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”

In die volgende mannas gaan ons in spesifieker terme hierna kyk, want dit lei ‘n baie belangrike posisie in vir elke gelowige.

 

  • Sela: Beweeg jy in die bediening van versoening?
  • Lees: Num 12;  Dan 3; Eseg 13
  • Memoriseer: Dan 3:17-18
  • Vir dieper delf: Luister na Saar Zaayman se cd-lering: God se geregtigheid.