“Daar is nie meer Jood of Griek nie … want julle is almal een in Christus Jesus.”
(Gal 3:28, OAV)
Ons het in die vorige manna uitgekom by een van die wonderwerkinge van die Bloed van Jesus, en dit is dat dit versoening bewerk. Nie net versoening tussen God en mens nie, maar ook dat dit die potensiële werking het om die muur van skeiding tussen alles te verwyder! Ons het uit Efes 2:13-16 verduidelik dat daar veral ‘n versoening gekom het tussen die twee hoofgroepe in die wêreld: die Jode en die nie-Jode. Die muur van skeiding tussen hierdie twee prototipiese groepe het vir eeue geweldige misverstand, hartseer en onberekenbare pyn meegebring. Vandag selfs word miljoene mense, veral gelowiges ook, mislei om NIE te glo dat Jesus se bloed die onderskeid tussen hierdie groepe WEGGEWAS het nie. In die taal van die Skrif hierbo is daar dus nie meer Jood of nie-Jood/Gentile/heiden/Griek nie.
Om hierdie saak na behore te verduidelik, vra na regte ‘n lang aanloop, en ons sal dit so kort as moontlik probeer doen. Ons as Bybelgelowiges moet besef dat ons perspektief op die geskiedenis van die mens en die wêreld waarin hy hom bevind grootliks anders is as die sekulêre samelewing se perspektief. Vir ons word die geskiedenis van die wêreld vertel uit die oogpunt van Elohim, die SkepperGod, wat hemel en aarde gemaak het en waarbinne daar ‘n bepaalde Goddelike geskiedenis (history = His Story) voltrek is. In hierdie geskiedenis speel ‘n volk genaamd Israel ‘n sleutelrol.
Vir diegene wat nie die Bybel as vertrekpunt aanvaar nie, sal daar permutasies van totaal ander geskiedenisse van die wêreld moontlik wees. Die oerknalteorie, die evolusie en lotgevalle van die mens op aarde word uit ‘n ander geloofsbril beskou. Daarbinne is Adam as die eerste mens nie ‘n primêre vertrekpunt in die gesprek oor die mens nie, want hy is hoogstens vir hul ‘n mitiese voorbeeld in die literatuur van ‘n groepering van die aardbevolking genaamd Christene wat glo dat daar ‘n eerste geskape mens was. Hierbinne sal die lotgevalle van die volk Israel vir hulle geensins so belangrik wees as vir Bybelgelowiges nie, behalwe dat die volk telkens in die wêreldgeskiedenis ‘n besondere fokus gekry het, byvoorbeeld in die tyd toe ‘n gewone man van Násaret beweer het hy is die Messias waarop dié volk gewag het, en dat hulle hom nie geglo het nie. En dat dit ‘n nuwe geloofsbeweging geïnisieer is deur hierdie ‘sekteleier’, wat een van die grootste gelowe van die wêreld geword het. Of dat Israel deurgaans in die geskiedenis die brandpunt rondom wêreldvrede was. En dat die Jode – vir die een of ander rede – as groep dikwels teengestaan word, waarvan die Tweede Wêreldoorlog se konsentrasiekampe en gaskamers een van die aakligste brandmerke in die mens se kollektiewe geheue is. Vir mense wat weer uit ‘n finansiële lewensraam kyk, sal die Jode bloot voorbeelde wees van ‘n nasie wat hul vermoë tot handeldryf tot ‘n baie fyn en suksesvolle kuns vervolmaak het. (Trouens, dit word dikwels veral in ‘n negatiewe sin gebruik – die spreekwoord “Hy is ‘n Jood” beteken volgens die woordeboek dat dit ‘n neerhalende benaming is vir ‘n geldgierige persoon wat liefs te vermy is.)
IIIn die volgende manna probeer ons uitwys hoe ‘n Christelike wêreldbeeld ‘n totaal ander perspektief bied waar die Jood en Israel absoluut sentraal is rondom die mens se His Story.
- Sela: Wat is jóú perspektief op die Joodse nasie?
- Lees: Num 13; Dan 4; Eseg 14
- Memoriseer: Eseg 14:4
- Vir dieper delf: Lees Kent se History of the Hebrew people.