“En wie is soos u volk Israel, ‘n enige nasie op die aarde …”
(1 Kron 17:21, OAV)
Uit die Bybel as historiese dokument neem Israel as volk en hul taal Hebreeus ‘n baie belangrike plek in in die geskiedenis van die wêreld. In The Weekly Standard van 11 Mei 1998 maak Charles Krauthammer hierdie stelling: “”Israel is the very embodiment of Jewish continuity: It is the only nation on earth that inhabits the same land, bears the same name, speaks the same language, and worships the same God that it did 3,000 years ago. You dig the soil and you find pottery from Davidic times, coins from Bar Kokhba, and 2,000-year-old scrolls written in a script remarkably like the one that today advertises ice cream at the corner candy store.”
Alhoewel Israel eers as nasie afgekondig is in God se belofte aan Abram (Gen 12:3), ongeveer 2090 v.C. Hy gaan uit sy geboorteplek (waar die moderne Irak vandag is) in gehoorsaamheid na die land wat God hom wys (Heb 11:8). Dié land, Kanaän (Gen 12:5), word in ‘n verskyning van die Here aan hom en sy nageslag belowe (:7). God sluit ‘n verbond met Abram en weer word die land Kanaän (Gen 15:5 & 7) aan hom en sy nageslag belowe. Na sy kleinseun Jakob se worsteling met God (Gen 32:22-32) word dié kleinseun die naam Israel gegee. Die seuns van Jakob word baie gou “die seuns van Israel” genoem (Gen 46:8; Eks 1:1). In Jos 21:45 tref ons reeds die naam “die huis van Israel” aan, wat deurgaans gebruik word om die volk, maar ook grondgebied, aan te dui.
Na die skeuring van die volk onder Rehábeam en Jeróbeam I dui “Israel” op die Noordelike ryk, teenoor die Juda, die suidelike ryk. Maar na die val van Samariá, die wegvoering van die tien stamme en hul terugkeer ná ballingskap word die naam “Israel” ten opsigte van die teruggekeerde ballinge gebruik (Esra 9:1, Neh 9:1). Op die duur word die naam egter met die term “Jode” vervang (Bybelse Ensiklopedie en Handbook to the Bible).
Vreemd genoeg het hierdie volk se ander benaming, Hebreërs (Eks 21:2; Deut 15:12; Jer 34:9), geensins ‘n verband met die taal Hebreeus nie. In 2 Kon 18:6 vra Éljakim byvoorbeeld aan die rábsake: “Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.”
Hebreeus, volgens die Joodse wysgere (sages), kom egter nie van Abram af nie, en is – teen die taalkundige teorieë (soos Angel Sáenz-Badillos se gesaghebbende A History of the Hebrew Language) in – nié ‘n Kanaänitiese taal nie. Die Joodse rabbi’s deur die eeue het geglo dat God in Hebreeus met Adam gepraat het, dat dit oorgedra is van geslag tot geslag tot by Eber (hy het dit ontvang van Noag en Noag van Adam). Die Hebreeuse taal was gepraat deur Eber (of foneties Heber) en is Ibrit (Hebreeus) genoem. Hy het dit bewaar, selfs tydens die geskiedenis van die Toring van Babbel J, en dit aan Abram oorgedra. Daarvandaan het dit die tongval van die Jode geword in die land Israel.
Al die geskiedenis moet dien dat ons besef dat 1 Kron 17:21 se uitspraak waar is: “En wie is soos u volk Israel, ‘n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ‘n volk gaan verlos het”, en Deut 7:6 – “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.”
- Sela: Oor Eks 19:6 en 1 Pet 2:9. Wie is die volk van wie telkens gepraat word?
- Lees: Num 14; Dan 5; Eseg 15
- Memoriseer: Num 14:21
- Vir dieper delf: biu.ac.il/JH/Parasha/eng/vayigash/sarfati.html