Dag 347

“… om op te bou tot op ‘n Gesalfde …” (Dan 9:25, OAV)

 

Ons het uitgewys dat Jeremia in hoofstuk 31 van sy profetiese boek uitvind dat God ‘n nuwe verbond in die vooruitsig stel. Die profeet Daniël, in sy besigwees om die boekrol van Jeremia te ondersoek (Dan 9:2), kry openbaringskennis oor wat alles moet gebeur met die bondsvolk Israel en hul heilige stad oor ‘n tydspan van “sewentig sewetalle”: “om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.” Kom ons kyk vlugtig na hoe elkeen van hierdie profetiese merkers in Jesus volbring is.

Eerstens: “om die goddeloosheid te voleindig” (“to finish the transgression” – KJV). Die wet, sê Heb 7:19, kon niks volkome maak nie. As Jesus in Joh 19:30 uitroep: “Dit is volbring!”, kom hierdie merker tot vervulling. Heb 9:15 spel dit uit: “En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament …”  Soos Heb 7:25 dit stel: nét Jesus kan “volkome red”.

Tweedens: “om die maat van die sondes vol te maak” (“made an end of sins” – KJV). Die Engel wat aan Maria en Josef verskyn het, het die profetiese belofte rondom die Jesuskind uitgespel in Mat 1:21 – “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”. Toe Johannes die Doper Jesus as volwassene sien, het hy die profetiese belofte bevestig: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29). Die skrywer van die Hebreërboek maak dit onteenseglik duidelik dat Jesus se dood hierdie merker vervul het: “But now, once for all time, he has appeared at the end of the age to remove sin by his own death as a sacrifice.” (Heb 9:26b, NLT).

Derdens: “om die ongeregtigheid te versoen” (“to atone for iniquity” – ESV; “to make reconciliation for iniquity” – ASV). God, verklaar 2 Kor 5:19, het in Jesus “die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie”.

Vierdens: “om ewige geregtigheid aan te bring“. Ons weet dat niemand na die sondeval enige geregtigheid het voor God nie (Jes 53:6; 64:6). Maar “Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor 5:21).

Vyfdens: “om gesig en profeet te beseël”. Die woordjie in Hebreeus vir “beseël” beteken: “to seal up, fasten up by sealing”, met ander woorde om jou finale voltooiing of afhandeling van ‘n saak te proklameer. Hab 2:3 profeteer: “Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie.” As Jesus in Mat 11:13 sê “al die profete en die wet het tot op Johannes (die Doper) geprofeteer”, en ons weet Johannes die Doper word beskou as die einde van die ou verbond-bedeling (Mat 11:11), dan is die kruis van Jesus die “vasgestelde tyd” waarna Habbakuk verwys. Jesus het gekom om die wet en die profete te vervul (= te beseël, volledig te maak), verklaar Mat 5:17.

Sesdens: “om wat hoogheilig is, te salf” (“to anoint the holy of holies” – Darby). Met Jesus se kruisiging is die skeidingsmuur van die voorhangsel middeldeur geskeur (Mat 27:51) en daardeur het die Gesalfde (=Christus) ‘n nuwe weg ingelei vir ons (Heb 10:19-20) tot in die “holy of holies”.

 

  • Sela: Besef jy hoe ‘n verkeerde interpretasie van hierdie vers uit Daniël jou eindtydbeskouinge bes moontlik in totaliteit beïnvloed het?
  • Lees: Num 19;  Dan 10; Eseg 11
  • Memoriseer: Eseg 11:19-20 (weer eens die sinchronisasie – die nuwe verbond profeties uitgespel!)
  • Vir dieper delf: Lees hfst 10 van Kelly Varner se Whose right it is.