“Know therefore and understand that from the going forth of the commandment to restore and to build Jerusalem until [the coming of] the Anointed One, a Prince, shall be seven weeks [of years] and sixty-two weeks [of years] …” (Dan 9:25, AMP)
Ons het nou in die vorige manna in detail gelet op al die fasette waardeur God met die bondsvolk Israel gewerk het en gesien dit is alles volbring met die kruisiging en opstanding van Jesus. Daar is ‘n baie spesifieke tydsraamwerk uitgespel waarbinne God sy verbond met hierdie spesifieke volk tot volvoering wil bring sodat die nuwe verbond tot al die nasies gerig kan word. Ons vergeet dikwels hierdie baie belangrike faset van die ou verbond en die Ou Testament: dis ‘n woord vir Israel en die Jode, nie vir die res van die nasies nie.
Daniël se kalender bring vir ons ‘n ongelooflik belangrike tool om ons posisionering te verstaan – daar word eksplisiet gemaan: “Nou moet jy weet en verstaan”. In die hele Bybel is daar miskien nie ‘n gedeelte wat so absoluut misverstaan en misgeïnterpreteer is as juis hierdie vers nie! Die gruwelike misleiding van die wegraping asook die sewe jaar verskriklike verdrukking voor Jesus se wederkoms, die Antichris wat moet kom en in die derde tempel van die Jode (wat nog gebou moet word op die plek waar die Moslems se Dome of the Rock tans staan) die wêreld sal regeer, is almal uit teologiese misinterpretasies van hierdie teksgedeelte gebore. (Ons sal mettertyd aan al hierdie en ander misleidings uitvoeriger aandag gee.)
As Daniël in die Skrif hierbo praat van sewe sewetalle is bykans al die hermeneute van die Ou Testament dit eens dat dit ‘n profetiese stelwyse is en gelyk gestel kan word aan sewentig maal sewe jaar = 490 jaar. (Die 70 jaarlange ballingskap van die Jode waaroor Jeremia dit gehad het – Jer 29:10 – wat plaasgevind het van 606-536 v.C, is die prototipiese patroon waarop die profesie van Daniël geskoei is. Let op: dit is ‘n ONONDERBROKE tydperk.)
‘n Baie spesifieke datum word as aanvang gegee, die tydspan word eksplisiet uitgewys, dit word verdeel in drie fases, en die gebeurtenis wat die einde van hierdie tydperk uitspel word eweneens eksplisiet genoem. Op grond daarvan kan ons ‘n baie duidelike tydsverklaring hieruit bepaal. Die Living Bible spel dit eksplisiet uit: “Now listen! It will be forty-nine years plus 434 years from the time the command is given to rebuild Jerusalem until the Anointed One comes!”
In Neh 2 lees ons die voorloop tot die uitvaardiging van die dekreet deur koning Artasásta (Longimanus) van Persië aan Nehemia om die heilige stad se mure en poorte te herbou, om wette in te stel, magistrate en regters en ‘n uitvoerige regering aan te stel. Dit geskied in 445 v.C. Die herstel van Jerusalem en die Joodse staat is in der waarheid ‘n herbevestiging van die eerste twee dekrete van die konings Kores en Darius. Esra 7:8 stel dit eksplisiet dat Artasásta hierdie epogmakende dekreet in die sewende jaar van sy koningskap gemaak het. Esra kom in dieselfde jaar, op die eerste dag van die vyfde maand (Esra 7:9), 1 Augustus 457 v.C. Dertien jaar hierna (in 444 v.C. – Neh 1:1), het Nehemia toestemming gekry om Jerusalem toe te gaan. Vir 13 jaar was daar baie moeilike omstandighede (Neh 4:17) wat hul teengestaan het in die volvoering van hul taak, maar in 52 dae na Nehemia se koms is die taak voltooi (Neh 6:15).
Die beginpunt van Daniël se profesie is duidelik Artasásta se dekreet aan Esra in 457 v.C.
- Sela: Trek ‘n tydlyn op grond van die inligting hierbo en besin oor die implikasies daarvan.
- Lees: Num 20; Dan 11; Eseg 12
- Memoriseer: Eseg 12:27-28
- Vir dieper delf: Lees Robert Caringola se Seventy weeks: The historical alternative en Philip Mauro se The wonders of Bible chronology.