“En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het”
(Luk 3:23, OAV)
Uit die vorige twee mannas het ons duidelik histories en Skriftuurlik kon bepaal die beginpunt van Daniël se profesie is Artasásta se dekreet aan Esra in 457 v.C. Dít is dan onteenseglik die tydsgewrig waarna Dan 9:25 verwys as die “uitgang van die woord om Jerusalem te herstel”. Nou kan ons met gemak die 434 jaar en die 49 jaar (totaal = 483 jaar) uitstip en bepaal wat is die laaste week wat gelei het “to fulfill all righteousness” (Mat 3:15, NIV), waaroor Jesus gesê het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom …” (Mark 1:15).
Die eerste 49 jaar is gebruik om die stad en die muur te herbou. Dit het gebeur vanaf Artasásta se dekreet aan Esra in 457 v.C tot 408 v.C. Volgens Neh 13:23-31 was Jerusalem as hart van die Joodse volk opgebou en gevestig.
Daarna, as jy nou 434 jaar bytel, neem dit ons van 408 v.C. na 27 n.C. (een jaar moet bygetel word as ons van v.C. na n.C. toe beweeg), toe Jesus volgens die Skrif hierbo “omtrent dertig jaar oud” was (volgens Josefus die geskiedkundige is Jesus in 4 v.C. gebore).
Jesus se openbare loopbaan is egter voorafgegaan deur ‘n baie belangrike gebeurtenis: sy doop. Luk 3:21-22 beskryf dit soos volg: “En toe … Jesus … gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae.”
Hier is die kruks. Tot op hierdie stadium het Jesus Homself voorgehou as die “Verlosser van die wêreld” (1 Joh 4:14); Jesus beteken immers Verlosser in Grieks. Maar vroeër het Hy Simon Petrus gevra wie Hy regtig is. Die geskiedenis word vertel in Mat 16:15-16: “Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Hy is ook die Christus, die Gesalfde! Onmiddellik het Jesus hierdie vreemde ding gedoen: “Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.” (vers 20).
Hoekom nie? Alhoewel Hy daartoe geroep was, was dit nog nie profeties vervul nie (sien bv Joh 4:25-26), want sy “tyd is nog nie daar nie”, soos hy dit elders (Joh 7:6 & 8) gestel het. Eers na sy doping met die Heilige Gees in 27 n.C. het Jesus die Christus, die “Gesalfde” geword, die “Prins” (Hand 3:15; 5:31 en Open 1:5). “Now listen! It will be forty-nine years plus 434 years from the time the command is given to rebuild Jerusalem until the Anointed One comes!” (LB).
Ons verstaan nou vers 25 duidelik: “en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid”. En verse 26 en 27 voorspel dan: “En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” Ons moet verstaan waarop hierdie verse dan dui. In die volgende manna bring ons al die lyne bymekaar uit.
- Sela: Probeer Dan 9:26 en 27 profeties interpreteer.
- Lees: Num 21; Dan 12; Eseg 13
- Memoriseer: Dan 12: 2-4 & 13
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die geheimenis van Jesus die Christus.