
“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit …”
(Dan 9:27, OAV)
Toe Jesus die tempel ingaan en sien dat dit ‘n “rowerspelonk” (Mat 21:13) geword het, het Hy almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi (vers 12). Nét hierna maak Hy hierdie uitspraak: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.” (Joh 2:19). Hierdie uitspraak word grootliks verdraai in die loop van tyd en word uiteindelik een van die hoofredes waarom die Jode Hom om die lewe wil bring en wat hul gebruik om sy onmagtigheid aan die kruis te smaad (Mat 26:61 & 40; Mark 14:58).
Joh 2:21 spel dit eksplisiet uit dat die tempel soos die Jode hom geken het, vervang is met die tempel van sy Liggaam. Hý is die huis wat vir ons voorberei word (Joh 14:2-6 & 18); sy Liggaam word die Nuwe Jerusalem waarbinne Hy sal kom woon (Open 21:2-3). Maar ons moet duidelik verstaan dat die Ou Verbond se tempel VERVANG is met die Nuwe Verbond se Tempel, Jesus Christus. Dáárom is die ou tempel se voorhangsel met die kruisiging middeldeur geskeur (Mat 27:51), ‘n eerste fisiese teken van die degenerasie van die ou tempel, want “Hy (het) die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Heb 8:13).
Daar was duidelik ‘n transisieperiode, wat ten beste uitgewys word deur ‘n baie interessante gegewe wat ons nie in ons Bybels opgeteken het nie, maar wat wel in die rabbi’s se Babiloniese Talmoed (Yoma 39b) is: “During the last forty years before the destruction of the temple the lot ‘for the Lord’ did not come up in the right hand; nor did the crimson-colored string [suspended in the Temple to show the acceptance of the pascal sacrifice] become white; nor did the western-most light shine; and the doors of the Temple would open by themselves …” Dit alles is deur die Christelik-Joodse gemeenskap geïnterpreteer as tekens van God se wraak op die Jode omdat hulle nie Jesus as Messias erken het nie. Maar ek meen daar is veel meer daarin – dis allereers ‘n duidelike degenerasie van die Ou Verbond, wat ‘n hoogtepunt bereik het in 70 n.C. toe Nero sy seun Titus aangesê het om die heiligdom te vernietig, die tempel af te breek en met vuur te brand. Dit wat Daniël in 9:26 vooruitgeskou het en Jesus in Mat 23:24 geprofeteer het, het inderdaad plaasgevind met sy kruisiging. (In Vir dieper delf word ‘n goeie bron hieroor gegee.)
Maar dit resoneer ook presies wat in Dan 9:27 geprofeteer is: “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou …”
Kelly Varner se uitgebreide “Messiaanse” parafrase van Dan 9:26 & 27 (in Whose right it is, p. 277) vat die los lyne pragtig saam: “And after threescore and two weeks shall Messiah be cut off, but not for Himself … And He [the Messiah] shall confirm the [New] covenant with many [elect Jews] for one week; and in the midst of the [seventieth] week He [the Messiah] shall cause the sacrifice and the sin offering to cease (at Calvary’s cross) …” Die ware Paaslam, Jesus (1 Kor 5:7), het in die helfte van die laaste week al die ander offers in die tempel vervang. Die tempel het geen bestaansreg meer gehad nie, en moes net wag vir die vervulling van Sagaria se profesie (11:1) dat die tempel deur vuur verwoes moes word.
Maar waartoe het die laaste drie en ‘n half jaar ná die kruisiging gelei, daardie afsluiting van die sewentig profetiese weke? In die volgende manna gaan ons hierdie openbaring deel.
- Sela: Lees Eseg 16 en kyk hoe die lering hierbo in die hoofstuk gestalte vind.
- Lees: Num 24; Hos 3; Eseg 16
- Memoriseer: Soveel jy kan van Eseg 16, wat waarlik weer Goddelike sinchronisiteit is!
- Vir dieper delf: Lees Randall Price se The Temple and Bible Prophecy.