Dag 355

“En hulle het Stefanus gestenig …”  

(Hand 7:59, OAV)

 

Met die steniging van Stefanus het daar ‘n paar baie belangrike gebeurtenisse in kort opeenvolging  plaasgevind. Hand 7:55-58 gee dit soos volg weer: “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.”

Eerstens: Ons weet dat Jesus sit aan die regterhand van God (Efes 1:20). Hier word dit eksplisiet gestel, twee keer: met die eerste Christelike martelaar se sterwe, staan Jesus aan die regterhand van God! (Hierdie is die volvoering van al die profetiese woord wat God tot Israel gerig het dwarsdeur die Ou Verbond: van Gen 21:18 af dat Abraham aangesê is dat hy moet opstaan met Isak, die seun van die verbond, deur Jes 60:1: “Staan op, word verlig …”, tot by Open 14:1 waar die Lam opstaan op die berg Sion.) ‘n Mens sou dit as ‘t ware kon sien as Jesus se erkenning aan die nuwe epog wat aanbreek – “he is raised up from his holy habitation” (Zec 2:13, KJV). Hy staan gereed om Stefanus te ontvang en te kroon (sy naam beteken in Grieks: kroon)!

Tweedens: Dis baie belangrik dat die Jode hulle ore toegestop het. In Eseg 12:2 word die rede daarvoor voorgehou: “Mensekind, jy woon onder mense van die wederstrewige huis, wat oë het om te sien, maar nie sien nie; ore het om te hoor, maar nie hoor nie, want hulle is ‘n wederstrewige huis.” In Sag 7:11 word die direkte profetiese teëhanger van hierdie gebeurtenis gebied: “Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie.” Mense het partykeer die indruk uit Rom 11:8 dat die Jode nie ‘n keuse het oor die feit dat daar ‘n gees van diepe slaap op hulle uitgegiet is nie – dis nie waar nie, anders sou daar byvoorbeeld glad nie Messiaanse Jode gewees het nie! En Jesus self het verduidelik in Mat 13:14-15 – “En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.” Adam Clarke’s Commentary on the Bible maak dié kantaantekening oor die vers: “As they had wilfully closed their eyes against the light, so God has, in judgment, given them up to the spirit of slumber.”

Derdens: Volgens die wet moes iemand wat gestenig word buite die stad geneem word (Lev 24:14; Num 15:35) – dit het ook dan hier gebeur. Dan moes die getuies op wie se getuienis die skuldige skuldig bevind is, die eerste klippe gooi (Deut 17:7). Om gemakliker te kan gooi, het hul hul klere uitgetrek (dit was nie praktyk nie, alhoewel die gestenigde een se klere, volgens Clarke,  heeltemal uitgetrek is), bes moontlik net die bo-kleed. Dié klede is by die voete van Saulus gelaat – die geleerde Fariseer wat die Christene gehaat en ten bloede toe vervolg het (Hand 8:3; 9:1). Die betekenis hiervan, en al die ander implikasies, vir ons ook,  word in die volgende manna uitgespel.

 

  • Sela: Lees weer Dag 306 se manna in die lig van hierdie lering.
  • Lees: Num 27;  Hos 6; Eseg 19
  • Memoriseer: Hos 6:1-2
  • Vir dieper delf: Lees hfst 1 van C.H. Dodd se The meaning of Paul for today.