“I also was standing by, and consenting,
and keeping the garments of them that slew him.”
(Acts 22:20, ASV)
Die geleerde Fariseer wat die Christene gehaat het en ten bloede toe vervolg het, Saulus, is hier aan die woord. Met die steniging van Stefanus het hy dit alles as getuie gadegeslaan en die klere van die moordenaars van die eerste Christelike martelaar het aan sy voete gelê. Hierdie gebeurtenis het geweldige belangrike profetiese betekenis.
Klere dra in die Skrif ‘n belangrike simboliese waarde. In Dictionary of Biblical Imagery word dit gestel: “the literal investing and divesting of garments becomes overtly metaphoric of spiritual states” (p. 319). Hierdie klere wat die vals getuies uittrek, kan derhalwe duidelik gesien word as die kleed wat deur sonde bevlek is (Jud 1:23), ‘n duidelike manifestasie van die simboliese melaatsheid wat in die klere is (Lev 13:47-59), hul goeie dade is niks meer nie as “a filthy rag” (Isa 64:6, CEV), klere met bloed bevlek, wat niemand durf aanraak nie (Klaagl 4:14). Hulle is duidelik manne van geweld, “die geweld bedek hulle soos ‘n gewaad” (Ps 73:6). Die kleed by Saulus se voete is bepaald “met geweldpleging bedek” (Mal 2:16).
Die volvoering van die Ou Verbond het die mens met vuil klere voor God laat staan. Die pragtige profetiese uitspeel daarvan in die lig van Jesus se inlei van ‘n nuwe dispensasie is die opgetekende geskiedenis van Josua in Sag 3. Josua word hier voorgehou as die hoëpriester, die enigste een wat een maal ‘n jaar die volk in die Allerheiligste van die Tempel kan verteenwoordig (Eks 30:10; Lev 16:34). Selfs hy, wat korporatief die ganse Joodse volk verteenwoordig, se kleed – “his spiritual state” – is egter bevuil.
Lees die profetiese uitspeel van die transisie wat later sou plaasvind in 33 n.C.: “Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie? En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. Daarop sê ek: Laat hulle ‘n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek, terwyl die Engel van die HERE daarby staan. En die Engel van die HERE het Josua plegtig verseker en gesê: So sê die HERE van die leërskare: As jy in my weë wandel en as jy my verordening onderhou, dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan. Luister tog, o Josua, jy wat die hoëpriester is, jy en jou vriende wat voor jou sit—ja, wondertekens is hulle. Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom! Want kyk, die steen wat Ek voor Josua neergelê het—op die een steen is daar sewe oë; kyk, Ek sal sy graveersel graveer, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg.” (Sag 3:1-9).
Uiteraard is God se “Kneg, die Spruit” waarvan hier gepraat word, óók ‘n man met die naam Josua, of soos Hy in Grieks genoem word: Jesus. Hý dra die klere van die Nuwe Verbond.
- Sela: Lees die verhaal van Josef (Gen 37-45) waar klere deurgaans gebruik word om die volgende posisie van transisie aan te dui.
- Lees: Num 28; Hos 7; Eseg 20
- Memoriseer: Eseg 20:49
- Vir dieper delf: Lees hfst 1 van William Barclay se The mind of St Paul.