“kyk, ons wend ons tot die heidene ” (Hand 13:46, OAV)
Die aksie van die steniging van Stefanus het die ou verslete kleed van die Ou Verbond (met geweld, wet en sonde bevlek) voor die voete gelê van ‘n baie spesifieke persoon, iemand oor wie God gesê het: “he is a chosen instrument of mine to carry my name to the gentiles and their kings and to the descendants of Israel” (Acts 9:15, ISV). Onthou: Jesus is aan die woord.
Ons het deeglik uitgewys dat God se oorspronklike verbond met Israel was, en dat alle ander nasies streng gesproke daarvan uitgesluit was, behalwe as hul hul deur proselietskap deel van die volk Israel geword het. Die Jode het as gevolg van hierdie sterk verbondsvolkbewussyn ‘n ingeboude antagonisme teenoor alle ander volke ontwikkel, waarvan eiewaan miskien die belangrikste wortel was. Hul eie roeping het hul laat optree asof alle ander nasies deur God verwerp is. Barclay sê dat die sterkste gevoel teenoor die ander nasies soms in die geskiedenis gekulmineer het in ‘n Joodse spreekwoord wat lui: “The Gentiles were created by God to be fuel for the fires of hell.” Die geskiedkundige Josefus sê byvoorbeeld in sy boek Against Apion: “the Jews had taken a deliberate oath never to show kindness to any Gentile” Apion sou, volgens Josefus, verkondig dat Jode gesweer het by Jahwe “never to show good will to a man of another nation”.
Dit is duidelik dat die nuwe beweging van die Weg (Hand 9:2), soos die vroeë Christene bekend gestaan het, voor ‘n enorme probleem te staan gekom het. Die saligheid vir die mensdom het uit die Jode gekom (Joh 4:22), en is allereers aan die Jode gebied, maar hulle het dit verwerp, in die woorde van Paulus en Bárnabas: “Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie— kyk, ons wend ons tot die heidene.” (Hand 13:46). Nou moes die evangelie aan alle nasies verkondig word (Mat 28:19). Die vroeë Christene se probleem was dus dat hul boodskap vir alle mense is; tog was dit in die oë van die meeste mense niks meer nie as ‘n Joodse sekte (Hand 24:5, 14; 28:22), en die Jode was in die antieke wêreld die mees gehate volk. Iemand baie spesifiek was nodig om daardie kontensieuse brug tussen Jode en die goddelose nasies te slaan. Interessant genoeg, ‘n man wat waarskynlik in dieselfde jaar gebore is as Jesus van Nasaret. (Sien Dieper delf.)
Die man op wie die mantel geval het, het al die bewysstukke van ‘n uiters godsdienstige lewe gehad om voor te hou. Hy deel ‘n deel van sy cv in Fil 3-5 & 6: “Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag wat Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.” In ‘n rede om homself te verdedig het Paulus homself voorgehou as die mees rasegte Hebreeuse Jood wat daar bestaan, deel van die verbondsvolk Israel, wie se bloedlyn terugstrek tot by die vader van die Jode, Abraham: “Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook.” (2 Kor 11:22).
Soos sy naamgenoot in die Ou Testament, Saul, was hierdie Saulus ook van die stam van Benjamin, ook ‘n man van groot outoriteit op ‘n baie jong ouderdom; hy het kop en skouers bo die ander uitgestaan. Albei se name dui op hul karakter: “to enquire carefully, consult (of deity, oracle), to seek”. Albei het ook ‘n salwing ontvang wat hul lewens radikaal verander het, maar die NT’e Saulus moes eers Paulus word, klein word (=bet), voor die geheimenisse hom toegedeel kon word.
- Sela: Trek die parallel tussen Saul en Saulus verder. Watter prototipiese waarde het dit?
- Lees: Num 29; Hos 8; Eseg 21
- Memoriseer: Eseg 21:21
- Vir dieper delf: blueletterbible.org/study/paul/timeline.cfm