“Therefore God sends upon them a misleading influence, a working of error and a strong delusion to make them believe what is false.”
(2 Thes 2:11, AMP)
Ons is nou vir ‘n geruime tyd besig met verskeie aspekte van die wonderwerkinge van die bloed van Jesus. In Manna 341 het ons begin met die aspek dat die bloed versoening bewerk. Nie net versoening tussen God en mens nie, maar ook dat dit die potensiële werking het om die muur van skeiding tussen alles te verwyder! Ons het uit Efes 2:13-16 verduidelik dat daar veral ‘n versoening gekom het tussen die twee hoofgroepe in die wêreld: die Jode en die nie-Jode. Soos Paulus dit sê in Gal 3:28: daar dus nie meer Jood of nie-Jood/Gentile/heiden/Griek nie.
Om hierdie saak na behore te kon verduidelik, moes ons ‘n lang argumentasiepad loop. Ons het uitgewys hoe die Jood en Israel absoluut sentraal was rondom God se agenda, met as uigangspunt die profesie van Daniël ten opsigte van Israel se geskiedenis wat opbou het tot en met die koms van die Gesalfde. Die presiese voltrekking daarvan is noukeurig nagevors, en dit het aangetoon dat Daniël se tydlyn van sewentig profetiese weke volvoer is drie en ‘n half jaar na die kruisiging, en dat dit histories presies korrespondeer met die steniging van Stefanus. (Interessant dat die Koptiese Kerk hierdie datum van Stefanus se steniging geweldig hoogag, en hul nuwe jaar op hierdie datum begin, wat vir hul ‘n herdenking is van die nuwe bedeling in die Nuwe Verbond wat na die nie-Jode toe oorgegaan het.)
Uit al bogenoemde volg daar heelwat implikasies vir my en jou:
- God se meesterplan is aangebied aan die Jode, ‘n volk met wie Hy ‘n verbond gesluit het. Hul het aanhoudend die verbond verbreek, en deur Jeremia en Daniël word ‘n afsluiting van hierdie Ou Verbond in die vooruitsig gestel en deur Jeremia en Esegiël ‘n Nuwe Verbond in die vooruitsig gestel.
- Hierdie Nuwe Verbond is gesetel in ‘n Gesalfde, ‘n Messias, ‘n Christus, wat sy bloed en liggaam gee as die verbond en word allereers aan die Jood gebied, wat dit finaal verwerp.
- Die afsluiting van die Ou Verbond en die profetiese handeling om die Nuwe Verbond nou aan alle nasies, volkere en tale aan te bied, geskied met die dood van Stefanus, die eerste Christelike martelaar.
- Hierdie nuwe geheimenis, dat die Nuwe Verbond aan al die nie-Jode ook gebied word, is ‘n geheimenis wat toevertrou word aan Saulus, wat later Paulus sou word.
- Die dwingende eindtydteologie wat die tydlyn van Daniël gebruik het om eindtydgebeure te beskryf, en dit duidelik verkeerd geïnterpreteer het, het aanleiding gegee tot ‘n onbybelse paranoia waar verskeie aspekte rondom ‘n verbeelde wegraping, die eindtydtempel, die Antichris, en so meer, ‘n vals bewussyn skep van totale misleiding.
- Dit is duidelik dat Israel en die Jodedom ‘n absoluut verkeerde klem en belangrikheid verkry het in die Christendom. As gevolg van ‘n verkeerde eindtydbeskouing is die ongeredde Israel ‘n Goddelike Pion-waarde toegeken wat heeltemal sentimenteel en onbybels is.
- Baie van ons beskouings oor kerkwees, rituele, verbondshandelinge en so meer is grootliks ‘n vermenging van Ou en Nuwe verbond. Ons lees en gebruik die Bybel derhalwe dikwels buite sy duidelike gebruiksaanwysings.
- Sela: Bid oor elkeen van die uitgestipte punt hierbo.
- Lees: Num 30; Hos 9; Eseg 22
- Memoriseer: Eseg 22:30
- Vir dieper delf: Lees hfst 1 van Stephen Neill se A history of Christian missions.